In Johannes 8:21-30 gebruik Jesus vier keer die woorde “Ek, Ek is...”
In hierdie gesprek wys Jesus op die radikale verskil tussen Hom en die Jode.
Hulle is “van hier onder” en hulle “behoort aan hierdie wêreld”. Hy, daarenteen,
is “van daar bo” en Hy “behoort nie tot hierdie wêreld nie”. Met hierdie wêreld
bedoel Jesus die sondige mense-wêreld. Die Jode verstaan glad nie wat Jesus hier
bedoel nie. Hulle het hulle eie lot verseël deur op die dag toe hulle sy stem gehoor
het, hulle harte te verhard en hardkoppig te wees.
Jou grootste sonde is nie die een of ander walglike daad nie. Ten spyte van jou
groot sonde wat tot die dood lei, kán jy daaruit gered word, daarvan gereinig word,
heeltemal daarvan bevry word, as jy Jesus aanvaar wat juis “van daar bo” na hierdie
wêreld gekom het om sondaars te verlos. Jou grootste sonde is om Jesus te verwerp.
As jy aanhou om Hom te verwerp, is daar net een opsie wat oorbly: jy sterf dan in
jou sonde. Jesus stel dit onomwonde: “As julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle
in julle sondes sterwe.” – Johannes 8:24.
Jesus Christus verander jou hele lewe. Jou lewensuitkyk en hoe jy leef.
Hoe het alles in Paulus se lewe nie verander toe hy Jesus leer ken het nie.
Die verandering in Paulus se lewe is nie net oor hoe hy eers gedink het nie, maar
ook hoe hy nou dink. As Jesus Christus jou lewe omkeer vernuwe Hy jou denke totaal.
Jy kan nou onderskei wat vir God goed en aanneemlik en volmaak is. Jou grootste
begeerte is om Christus te kén. Dit oortref alles in waarde.
Jesus het, met uitsondering van die sonde, Hom vereenselwig met die
hier-onder-mense, en die van-hierdie-wêreld-mense. Hy het selfs nog meer gedoen:
Hy het hierdie mense van die wêreld se sonde op Hom gelaai en in hulle plek die
verskriklike straf op die sonde gedra. Die toorn van God. So kan mense van
“hier onder” mense van “daar bo” word. Burgers van die hemel, sê Filippense 3:20.
Christus sê nou: “...hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die
wêreld behoort nie”.
Maar juis hier, in hierdie wêreld moet ons aan God toegewy wees - Johannes 17:14-17.
Mag ons regtig in staat wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep Christus se
liefde strek – Ef 3:18.
Ernest