In sy gesprek met die Jode het Jesus twee keer gesê: Ek is wat Ek is.
“As julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe”,
en ook: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal
julle begryp dat Ek is wat Ek is” – Johannes 8:24, 28.

Reeds in Eksodus 3:13-15 het God sy Naam so aan Moses bekend gemaak:
Ek is wat Ek is. Nou gebruik Jesus presies dieselfde Naam vir Homself.
Daarmee beklemtoon Jesus sy Godheid. Hy bestaan van ewig tot ewig,
is onveranderlik, vol genade en ontferming, en wil betrokke wees by sy volk.
Hy is nie ‘n God êrens daar ver nie. Hy is Immanuel, God by ons. Daarom het
Hy “afgekom” om ons te bevry – Eksodus 3:7-8. Hy wil nie hê dat ons in ons
sondes sterf nie – Joh 8:24.

“Ek is wat Ek is” stel die eis aan elkeen wat dit hoor: Jy moet gló dat Jesus
is wat Hy is. Dit is nie genoeg om dit net te hoor nie. Tot vandag toe nog
hou Jesus aan om Homself te openbaar sodat ons Hom kán kén! – Joh 17:3.

Ons leef nog in genadetyd! Sowel Jesus se kruisdood as sy opstanding en
hemelvaart laat ons begryp wat die betekenis is van “Ek is wat Ek is”.
Dit bevestig sy eenheid met God. Hy dra dieselfde Naam as God.
Let op Jesus se betekenisvolle woord: “Wie iemand ontvang wat Ek stuur,
ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het”
– Joh 13:19-20.

Vir elke gestuurde van die Here, en dit is elke gelowige, bly dit ‘n bron
van krag om te weet: Hy wat my stuur se Naam is: Ek is wat Ek is!

Ernest