In Johannes 8:58 sê Jesus: “Jesus het hulle geantwoord:
“Dit verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek
al wat Ek is.” Die Jode beskuldig Jesus dat Hy van die duiwel
besete is. Dit is iets verskrikliks om te sê! Ook in Matteus 9:34
het hulle dit gedoen. En ook in Matteus 12:24. Na aanleiding
hiervan het Jesus gepraat van die sonde teen die Heilige Gees
wat nie vergewe kan word nie. As jy van Jesus ‘n duiwel maak
laster jy teen die Heilige Gees.
Jesus besit immers die Heilige Gees – Johannes 3:34.
Die Jode sê in Johannes 8:48-59 twee keer dat Jesus van die duiwel
besete is. Dit was die aanleidende oorsaak dat Jesus verklaar het:
Voordat Abraham was, is Ek. Die ironie is dat die Jode self kinders van
die duiwel is omdat hulle doen wat hy wil... Johannes 8:44,47.
Jesus maak dan die baie belangrike stelling: “As iemand My woorde
ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie” – vers 51.
Die Jode dink egter net aan liggaamlike sterwe. Hy wat ewig lewe,
Jesus, gee ook die ewige lewe.
Jesus se aanspraak: Voordat Abraham was, is Ek” beteken dat Hy
die ewig lewende is. Vir die Jode was Abraham ‘n belangrike persoon.
Jesus beklemtoon dat Hy veel belangriker is as Abraham.
Voor Abraham daar was, was Hy al daar, van ewigheid af... die Jode is
hieroor woedend en tel klippe op om te gooi.
Jesus is nie tydgebonde soos Abraham nie. Abraham was, dus verlede tyd.
Met Jesus is dit heel anders. Hy was nie net nie... Hy is steeds, en tot in
ewigheid. Daarmee bevestig Jesus sy ewige, tydlose en absolute bestaan.
Op enige tydstip is Jesus die Een wat is! Hy is van alle ewigheid af, Hy is nou,
en Hy is tot in ewigheid. Teenoor Abraham se tydgebonde kort lewe,
staan Jesus se altyd teenwoordige lewe.
Jesus is van ewigheid tot in ewigheid.
Ernest