Aan die gemeente Tiatira sê Jesus: “Ek is die Een wat die
gedagtes en begeertes van die mens deurgrond” – Openbaring 2:23.
Die Boodskap vertaal dit so: “Ek weet wat elkeen dink en wat diep
binne hom of haar aangaan.” Christus dui aan dat Hy elkeen deur en
deur ken. Hy deurgrond ons. Hy ken ons tot op die bodem, deur en
deur. Voor Hom is alles van ons oop en bloot. Christus sê ook hier
dieselfde van Hom as wat van God gesê word. In aansluiting hierby
sê Jesus in vers 19 “Ek weet alles wat julle doen”. Hy weet as daar
groei is in ons geestelike lewe, as ons nou “meer doen as tevore”
– vers 19.
Jesus beklemtoon sy alwetendheid en alsiendheid: Hy deurgrond
ons gedagtes en begeertes. Ons kan Hom nie kul met ons vroom
praatjies oor ons verhewe heiligheid, geestelike hoogmoed en
eiegeregtige Christelike vryheid nie. Die vraag is of ek die Here
met alles wat ek is en het verheerlik. Die Here wat ons gedagtes
en begeertes deurgrond, ken ons sondes, maar ook ons Christelike
deugde. Vir elkeen van ons sê Hy: Hou vas wat julle het totdat Ek
kom.” Dit is meer as om net vas te byt. Dit is om jou gedagtes en
begeertes tot beskikking van die Here te stel.
Petrus se woorde is hier van toepassing: “Wees op julle hoede
dat julle nie meegesleur word deur die dwaling van beginsellose
mense en so van julle standvastigheid beroof word nie.
Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en
kennis van ... Christus. – 2 Petrus 3:17-18.
Ernest