Eerwaarde Henry Francis Lyte was moedeloos.
Jaar na jaar het hy in sy klein kerkie gepreek en sy gemeente versorg,
maar op die oog af het niks gebeur nie. Sy gemeente was nog steeds
liefdeloos, ongelowig en twisgierig. Hy was self nou ook baie siek en
sou volgens sy dokter nog net ‘n paar maande leef. Hy het in ‘n stoel
in sy studeerkamer neergesak en die gedeelte oor die Emmausgangers
gelees in Lukas 24:13-35. Lees hierdie gedeelte oor hierdie merkwaardige
gebeure.
Die Emmausgangers vra Jesus om nie verder te gaan nie, maar by hulle te bly.
Skielik het eerwaarde Lyte krag gekry om sy eie lot te aanvaar, om sy gemeente
te aanvaar, en om die sin van sy lewe te ontdek! Hy was so onder die indruk
van hierdie ervaring dat hy gaan sit het en die lied “Abide with me” geskryf het.
“Bly by my Heer”, lied 582 in die Liedboek. Treffend het die Halleluja lied die
een reël vertaal: “Hulp van die hulpelose, staan my by!” Ons bid dit!
Die Emmausgangers is op pad terug na die dorpie Emmaus. Hulle het hulle
hoop verloor. Hulle is onder die juk van die Romeine, sonder vryheid. Hulle
kry swaar, ekonomies en moreel. Toe hoor hulle van Jesus. Hulle hoop vlam op.
Hulle volg Hom. Hulle is getuies van wat Hy doen en sê. Voor sy kruisiging is
hulle vol hoop. Jesus praat met gesag en doen wonderwerke. Hy is verseker
die Messias waarvan die profete praat. Maar nou, nou is Hy dood. Gekruisig.
Hy is begrawe. Alles was tevergeefs. Hulle is moedeloos en swaarmoedig.
Hulle stap terug na Emmaus sonder hoop op die toekoms...
Wanneer jy so met die werklikhede en die feite in jou lewe gekonfronteer
word, lei dit maklik tot wanhoop. Dink net aan jou huidige omstandighede.
Waar kry jy hoop?
Dan gebeur dit... langs hulle Emmaus-pad... Die lewende Jesus soek hulle op.
Die lewende Jesus! Hulle het Hom nie gesoek nie. Hy kom na hulle toe.
Terwyl hulle so mismoedig was het hulle nooit besef Hy kom loop by
hulle nie. Die Here gaan uit sy pad om juis die swakkes op te soek.
Juis die wat die verste van Hom af voel, wat kleingelowig voel.
So sluit Jesus ook by jou aan, langs jou pad. En wat doen Hy?
Hy praat met hulle uit die Woord. Hy maak die Woord vir hulle oop.
Skielik gaan hulle oë oop! – vers 31. Maar juis dít is die buitengewone!
Dat die Woord vir jou oopgaan! Tóé het hulle harte ontbrand.
Die stem van die Here uit die Woord laat hulle harte warm word.
Twyfel jy? Maak jou twyfel jou moedeloos, teneergedruk?
Dit is duidelik dat Jesus Hom bemoei met mense wat twyfel.
Hy het Hom bemoei met die vrouens wat getwyfel het of Hy
opgestaan het. Hy het Hom bemoei met Kleopas, ‘n Griekse naam,
wat nie van Joodse afkoms was nie. God bemoei Hom met alle
mense wat soekend na Hom is. Hulp, Hulp met ‘n hoofletter,
Hulp van die hulpeloses staan ons by!
Ons kan ook saam met die lied sing: “Bly by my Heer...”
Ernest