Paulus sê dat hy geleer het om onder alle omstandighede vergenoeg
te wees. Daar is sekere omstandighede in jou lewe waaraan jy weinig
kan doen. Paulus sê min of meer in Filippense 4:11 dat hy geleer het
om altyd vergenoeg te wees met die omstandighede waarin hy is.
In ‘n vrye vertaling sê verse 12-13 min of meer “...ek weet wat dit is
om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het dié
geheim geleer om, of ek nou al honger het of versadig is, of ek te veel
het of te min, vergenoeg te wees. Ek het die krag om alle omstandighede
te bowe te kom deur die krag wat Christus my gee.” Bly by my, Heer!

David Grayson het gesê alle onvergenoegde mense wat hy ken, probeer
desperaat om iets of iemand te wees wat hulle nie is nie, of om te doen
wat hulle nie kan doen nie. Ons probeer uit omstandighede wegvlug,
ons probeer dit ontken, ons probeer om onsself aan die hare uit
omstandighede te trek. Maar dit verander nié die omstandighede nie.
Dit is eers wanneer jy aanvaar dat jou omstandighede werklik jou
omstandighede is, en dat jy aan daardie spesifieke omstandighede
niks kan doen nie, dat jy werklik uit jou hart en siel kan sê-vra:
Bly bý mý, Heer! Soos by die afsterwe van ‘n geliefde, of die
amputasie van ‘n liggaamsdeel... Dit is ‘n proses om te groei na
die punt waar Paulus sê: Hy het geléér om onder alle omstandighede
vergenoeg te wees.

Wanneer keiser Nero vir die onskuldige Seneca dwing om selfmoord
te pleeg, omdat Nero hom verdink van verraad, dan draai Seneca na sy
geliefdes en sê: Ek laat vir julle die kosbaarste na wat julle kan gaan leef,
die beste ding wat ek het, mý leefwyse. Wees vergenoeg. Moenie met
angstige hoop op môre leef nie. Moet jouself nie met verwagtinge en
vrese ophou waaroor jy nie beheer het nie. Wees tevrede met wat jy
reeds het, want dit is reeds oorvloedig.

Dit is wat Paulus ook sê uit Bybelse oogpunt. Dit is wat jy reeds hét, wat tel!
Al die seën van die Here, dag na dag. Leef in die moment van jou seëninge!
Jesus het vir jou vrede nagelaat! “My vrede laat Ek vir julle na.” – Joh 14:26.
Jesus sê dit vir sy vriende net voor sy kruisiging. Wanneer hierdie selfde
vriende ná die kruisiging beangs agter slot en grendel Jesus se kruisdood
bespreek, kom staan Hy wéér tussen hulle! “Vrede vir julle” – Lukas 24:36.

Vrede, innerlike kalmte in die Here! Dit word die bron waaruit energie kom
om te lééf, ten spyte van jou omstandighede. Dit is ook wat Paulus bedoel
wanneer hy sê sy vergenoegdheid spruit uit die krag en vrede wat die Here gee.
Christus kom nie maar net langs ons staan nie Deur die Heilige Gees word Hy
één met ons... deel van ons... en ons deel van Hom. “Ek in julle en julle in My”.

Deur die Heilige Gees word ons in die Here se goddelike kragveld ingetrek
waarin ons oorwinning kry oor ons omstandighede. Jy word innerlik ‘n ander
mens. ‘n Mens met lewenskrag en lewensmoed. Jy leef in die goddelike krag
van die Here se nabyheid! God is by jou, in jou, om jou, vir jou.
Jy is die fokuspunt van God se teenwoordigheid! Hierin lê jou heel grootste
vergenoegdheid. Om God te vertrou, om by jou te wees.
“Blý bý mý... Heer...” is jou leefwyse wat jy lééf, ... en agterlaat...

Ernest