Jy is die fokuspunt van God se teenwoordigheid.
Om vrede te maak met omstandighede waaraan jy niks kan
verander nie, is om jou in te oefen in die bewussyn van die
nabyheid van God, by jou! Om jou in te oefen in die innerlike
kalmte en vrede wat Hy jou wil gee. Uit daardie innerlike kalmte
en aanvaarding spruit mettertyd die krag wat God jou wil gee,
om jou te verander in ‘n nuwe mens met visie. Om vergenoeg
te wees is om God te vertrou om daar te wees waar jy is.
Hy ís by jou! Jy kan daarom ook gereeld in afhanklikheid bid:
Bly by my, Heer.

Klink dit hol, leeg of afgesaag? Het jy al die beloftes van die evangelie,
die beloftes van God, getoets en toe onbetroubaar en leeg gevind?!
Of het ons dit nog nooit regtig beproef nie, en verklaar dit net
eenvoudig as leeg? Onthou, die evangelie van Jesus Christus werk nié
met óns logiese kategorieë en moontlikhede nie. Dit is waarom die
evangelie “die blye boodskap” heet. Wat ons “onmoontlik” noem,
en wat vir ons “wonderwerke” is, was nooit vir die Here onmoontlik nie,
en is maar net uit óns perspektief wonderwerke. Vanuit die perspektief
van die evangelie is dit God se alledaagse manier van doen.

Ons moet werklik weer ‘n keer deur die Psalms gaan lees in stiltetyd,
en met aandag. Daar vertel gewone mense soos ons hoe God in hulle
bedreigde lewens ingegryp het, of eintlik ook nie ingegryp het nie...
Dit het maar net so gevoel. Wat hulle vertel is hoe God se manier van
doen verloop, en hoe jy daarop kan vertrou. Hy is naby jou! Teenwoordig!
Hy fokus op jou! Ons moet ook ons lewenswyse as erfenis agterlaat aan
almal wat met ons te doen het. Wat sal ons nóú agterlaat as ons daaraan
dink? Moedeloosheid? Vergenoegdheid?

Soms is dit erg moeilik om te kán sê: “Bly by my, Heer.” Ons voel dan
opstandig teenoor die lewe én teenoor God. Soms is dit erg moeilik om
vergenoegd te wees. Dit help tog nie jy gee dit net voor om vergenoegd te
wees nie. Dit hou nie. Dit haal jou net in. Maar dan moet ons onthou:
Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar dit is wat jy oorhou, wat tel!
Daar is soveel meer wat jy oorhou, as wat jy verloor. Jy leef, jy het verstand,
en gevoel, jou bene en hande. Jy het so oneindig baie!
Jy het moontlik minder as ander mense, maar jy het soveel oor,
waarvoor en waarmee jy kan veg vir ‘n nalatenskap van vergenoegdheid.
Lees weer Filippense 4:11, om in alle omstandighede vergenoegd te wees.

Ernest