Die meeste van ons ken seker Paulus se woorde dat ons
méér as oorwinnaars is in Christus. Romeine 8:37: “Maar in al
hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”
Maar dit is moontlik juis die probleem. Ons het hierdie woorde al soveel
keer gehoor dat ons die diepte en realiteit daarvan verbygaan. Ons dink
ons weet dit. Probleem is, ons leef dikwels asof hierdie woorde nie ‘n
werklikheid is ín ons omstandighede nie. Dié woorde rol maar oor ons
soos water van ‘n eend se rug af. Ons weet dit... en tog leef ons dit
maklik verby. Ons besef nie God is presies daar waar ons is nie.
Dink aan Jakob wat aan die vlug is voor sy broer Esau wat hom wil doodmaak.
Hy is in ‘n haglike plek in sy lewe. Gaan lees gerus die verhaal. In sy vlug-tog
kom hy op ‘n plek uit waar ‘n klomp klippe in ‘n sirkel gepak is. Uitgeput het
hy gaan lê om te rus, met sy kop op een van die klippe. Toe droom hy:
Net daar waar hy is, is ‘n trap, waarvan die voet van die trap by hom is.
Bo aan die trap sien hy God staan en op die trap klim engele heen en weer.
Hy word wakker en sê die woorde:
Die Here is by hierdie plek en ek het dit nie besef nie!
Vir Jakob was hierdie net ‘n oornag plek terwyl hy moeg en bang was.
Maar skielik besef hy: God is hier!
Dit is ook waar van die moeilikste omstandighede waarin ons kan kom.
Net daar, net mooi daar waar ons weerloos en bang en moeg en stukkend is...
net daar is God! Hy is daar en jy is sy fokuspunt, presies daar waar jy is.
Dit is ‘n geweldig belangrike waarheid en werklikheid. Jakob het uitgeroep
dat dit die woonplek van God is, die hemel se ingang! Die ou vertaling het
gesê dit is die poort van die hemel. Dit is dikwels presies daar waar jy die
stukkendste is in jou lewe, waar die poort na God is.
God is presies daar by jou!
Paulus se woorde, dat ons in Christus meer as oorwinnaars is,
flikker helder in die moeilikste omstandighede waarin ons kan lewe.
Kyk ons dit mis? Leef ons dit mis? Net mooi dáár is ons by ‘n poort na Bo!
In Christus is ons meer as oorwinnaars!
Ernest