C. S. Lewis skryf met ‘n stukkie humor in sy “The Screwtape Letters”
dat die een duiwel vermanend vir die ander sê: Hy moenie dink die
laagtepunt in sy pasiënt se welstand is noodwendig aan hom as duiwel
te danke nie. Hulle groot “Vyand”, God, gebruik juis dikwels sulke laagtepunte
in mense se lewens, en veral in sy kinders se lewens, om ‘n groter houvas op
hulle te kry. Hy maak vir sy kinders se geestelike groei meer staat op die
laagtepunte in hulle lewe, as op die hoogtepunte.

Dit is juis in sulke moeilike tye dat mense dringend oral na God soek.
Hulle voel onseker oor hulle waggelende geloof. Vir duiwelswerk is laagtepunte
gevaarlike punte. Dit is juis daar waar mense meer as ooit na God soek, en oop
is vir Hom! Die bose gebruik weer laagtepunte om ons te probeer wegwerk van
geloofsvertroue in God af. Die bose wil ons “logies” en “rasioneel” laat redeneer,
en nie uit geloof nie.

God is ewe veel oral teenwoordig! Alomteenwoordig. Die Duitse teoloog,
Schleiermacher, gee hieroor perspektief wanneer hy praat oor die Bybelboek
Prediker se tydrooster, dat daar ‘n tyd vir alles is. Hy sê ons het gewoonlik nie
moeite om te glo dat God teenwoordig is wanneer dit goed gaan nie. Dan sê
ons die Here seën ons, sus en só. Maar dit is as dit regtig sleg gaan, dat ons
begin twyfel. Is God nou teenwoordig? Waar is Hy?

Schleiermacher sê: God kan Homself nie oortref nie! Hy is nie in die goeie
meer teenwoordig as in die slegte nie. Hy is nie in omhelsing meer teenwoordig
as in afstand nie. Hy is nie meer in lag as in trane nie. Hy is ewe veel teenwoordig
in geboorte en in sterwe.

Wanneer Hy “ons hand vat”, is ons meer bewus van sy teenwoordigheid.
Wanneer ons dink Hy los ons hand, oefen Hy ons in geloofsgroei en vertroue.
Dit is tog wat geloof is: Om te hoop op wat ons nie sien nie, om teen alle hoop in
te hoop! Om seker te wees van die dinge wat ons nie sien nie. As ons beleef God
los ons hand, is Hy nie anders teenwoordig as wanneer ons beleef Hy hou ons vas
nie. Hy bly steeds ons Vader. Dit is waarom die Bybel sê God sal ons nie bo ons
vermoë beproef nie, en dat Hy reeds ons hand vat,
nog voordat ons regtig gestruikel het.

Een tree ís ook genoeg! Want, onwaarskynlik soos dit is... ons ís by die poort
van die hemel. Waar jy is, is God, en by God is die poort na die hemel!

Ernest