Is daar iets soos ‘n reddelose situasie? Ja, daar is, wanneer elke keuse
wat jy ookal kan maak, of jou nou sus of so besluit, slegte gevolge sal hê.
Maar ook dié situasie sal verbygaan. Wat belangrik is, is om gereed
te wees vir dáárdie tyd as die katastrofe verby is. Ons moet leef met
die wete dat elke katastrofe sal verbygaan. Daarom kan ons sê:
Ook dít sal verbygaan! Nié om dan hande gevou te gaan sit en wag
daarvoor nie, allermins, maar juis om daarmee jou visier doelbewus
vérder in te stel vir die tyd ná die katastrofe. In die reddelose situasie,
in die katastrofe, kan jy bid: “Bly by my, Heer”, om daarmee moed en
sekerheid te kry vir die huidige, maar óók om daarmee jou visier verder
in te stel, vir dit wat gaan vólg op die reddelose situasie.
Ons hoef verseker nié sinies te word nie. Selfs nie eers as jou situasie so
haglik is dat élke keuse wat jy maak, slegte gevolge sal hê nie. Jou keuses
moet dan gemaak word met die oog op die opbou-fase ná die katastrofe.
Want die huidige omstandighede sál verbygaan. Jou kompas is ingebed
in die één waarde wat nooit verander nie: God is gister en vandag dieselfde,
en tot in ewigheid! Dít stel jou in staat om jou dade ín die katastrofe te rig
op die toekoms ná die katastrofe. Dít is waarom ons te alle tye kan bid:
“Bly by my, Heer”... al is dit, wat ons betref, ‘n reddelose situasie.
Die toekoms ná die ellende, moet ons dade in die uitsiglose omstandighede
rig. Dit is nie maklik nie. Sinisme wyk nie sommer vanself nie. Jou visier stel
nie vanself vérder in nie. Jý moet dit doen. Jý moet die keuse maak en jy moet
dit doelbewus dóén! En jy kán! Ek is tot alles in staat deur Christus
wat my krag gee!
Om waarlik só te leef, in die vryheid wat die Here gee, met oop oë wat die
krisis of die kwaad sién vir wat dit is, sonder om sinies te word, paniekerig
te raak, of in vertwyfeling te leef, kos doelbewuste vashou aan die Oorwinnaar,
Jesus Christus. In Hom het God “die bose magte ontwapen en hulle in die
openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus
mee te voer” – Kolossense 2:15. Ongeag die haglikste omstandighede,
leef ons steeds in die oorwinning in Jesus Christus! Dit kos dat ons elke dag
sal bid: “Bly by my, Heer.” Want die Bose is sterk. Hy wil ons oortuig en laat sê:
Dit help in elk geval niks. Ons stuur in elk geval af op chaos. En só wil die Bose
ons van ons vryheid beroof. Hy wil weer van ons slawe maak van
‘n “helse” sinisme!
Ons mag nie toegee nie! Die bose wil jou visier ingestel hou op die
“hopelose omstandighede” in ons land, of in jou eie lewe. So wil die bose
jou verslaaf hou aan moedeloosheid en sinisme! Weerstaan die bose!
Leef die waarheid van jou vryheid in Christus doelbewus uit! Ons moet nóú,
en élke dag vorentoe lééf in die oorwinning ín Christus. Stel jou visier in onder
leiding van die Heilige Gees... laat toe dat die Heilige Gees jou visier instel!
Filippense 4:5 sê: “... die Here is naby...” Daarom kan jy bly bid:
“Bly by my, Heer.” Alles sal verbygaan. Ook dit wat nou is, sal verbygaan.
Die oorwinning in Christus sal bly staan, tot in ewigheid.
Leef oorwinnend, in Hom!
Ernest