Efesiërs 5:16-17 sê treffend in Die Lewende Bybel: “Moenie tyd mors nie –
maak die beste gebruik daarvan, want ons leef in moeilike tye. Daarom
moet julle nie doelloos lewe nie, maar verstaan wat die Here wil hê julle
moet doen.” Dit kan eintlik nie beter gesê word as in hierdie Heilige Gees
geïnspireerde woorde van Paulus nie: Ons leef in moeilike tye. Daarom
moet ons nié doelloos lewe nie. Ons moet verstaan wat die Here wil hê
ons moet doen, ín hierdie tye waarin ons leef. Moenie tyd mors nie.
Maak die beste gebruik van hierdie gawe uit die hand van die Here!

Daar kan nie maklik duideliker woorde as hierdie wees om ons te waarsku
dat die bose ‘n greep op ons lewe en ons tyd wil kry nie. Die bose wil ons
tyd vul met sinloosheid en doelloosheid. Die Ou Afrikaanse Vertaling het
by Efesiërs 5:16 gesê: “Koop die tyd uit, want die dae waarin ons leef,
is boos.” As die bose eers sy greep op ons lewe gekry het en ons verslaaf
het aan sinisme, word daar baie tyd verspeel deur eenvoudig net sinies te
wees oor alles en almal. Dan is ons juis besig om doelloos te lewe...
dit waarteen bogenoemde teks in Die Lewende Bybel ons waarsku!
Dan verstaan ons nié wat die Here wil hê ons moet doen nie. Dan mors
ons nie net tyd nie, maar ons mors ons lewe. Die kosbare tyd en lewe
waarin ons moet groei in ons innerlike menswees tot eer van God,
as sy verteenwoordigers in hierdie wêreld.

Ons moet bewustelik kies om nie sinies, en moedeloos, en sonder uitsig
te leef nie. Waar ons leef, is God... God is waar ons leef. Maak nie saak
hoe moeilik die omstandighede en die lewe is nie. Daarom sê Paulus:
Moenie doelloos lewe nie, maar koop die tyd uit! Kies doelbewus téén
sinisme en vír blymoedigheid en vergenoegdheid. Woeker met dit wat
oorgebly het in jou lewe. Dit is wat jy oorhou, dit wat oorgebly het na
jou verlies, wat tel.

Wat is die sin? Die sin is dat elke moment gebruik moet word om die
God-gegewe tyd in jou lewe uit te koop! ‘n Voorreg, en ook ‘n
verantwoordelikheid. Dit vra selfdissipline, en dan het jy min tyd oor
wat die bose kan gebruik om jou lewensin te verteer. Ons het elke dag
vier en twintig uur, en voor jy jou kom kry is ‘n groot deel daarvan verby.
Maar jý kan besluit om elke volgende uur, of die volgende minute, nié
op sinisme en negatiwiteit te vermors nie, maar om as ‘n vry mens
ín die Here en vír Hom te leef!

Ernest