“Bid gedurig” – 1 Tessalonisense 5:17. Kinders van die Here, gelowiges in Christus,
bid! Om te bid is om te bely dat God die Skepper van die heelal is, en die Een is wat
dinge sien en ken soos wat dit werklik is. Ons bely dat Hy ons Vader is wat ons liefhet.
Om te bid is ook om te weet en te bely dat Christus ons Verlosser en Here is, en dat
die Heilige Gees ons Trooster is, wat in ons woon. Ons het deel geword van God se
familie en kan daarom in opregtheid en met geloof bid om God se nabyheid –
“Bly by my, Heer.” Ons ken en bely ons eie kortsigtigheid en die gevolglike angs.
Om werklik te glo in die nabyheid van God, is om tegelyk te glo dat Hy almagtig is,
en alles kan doen wat vir my onmoontlik lyk. Hy is nie vasgevang in die natuurwette
wat ons al intussen ontdek het nie. Hy het dit geskep!
Gebed word vir die gelowige, en is vir die gelowige in Christus net so werklik as
swaartekrag. Gebed is om saam met geloof “om die onsienlike te sien”. Gebed is
‘n konstante kraglyn. Gebed kan op verskillende maniere gedoen word, met of
sonder woorde, hardop of bloot in jou gedagtes. Dit is soos ‘n onsigbare kraglyn.
Hierdie kraglyn is aan die een kant verbind met God, my almagtige Vader, en aan
die ander kant met my lewe, nietig klein. Deur die gebeds-kontak met God is ek,
klein en nietig, die fokuspunt van God se teenwoordigheid. Dáárom kan ek bid:
“Bly by my, Heer.” My klein lewe word die terrein waar God se mag deur Homself
gedemonstreer word. In my lewe verander Hy my angstige omstandighede teen
alle verwagting in, soos Hý wil.
My lewe wat aan hopeloosheid en sinisme prysgegee was, keer Hy om,
en omskep dit in ‘n fontein van hoop, ware léwe en krag.
Alexis Carrel, ‘n medikus, sê hy het gesien, dat wanneer elke soort terapie gefaal
het, hoé gebed mense uit hulle siekte en melankolie gelig het. Hy sê verder:
“As ons aan gebed dink in terme van natuurwette, onderskat ons die krag daarvan,
soos iemand reën sou onderskat as hy daarvan sou praat as iets wat net die
voël-bad in die tuin volmaak.”
Die vraag is nie of gebed dinge en mense kan verander nie.
Die vraag is of óns gerééd is dat God ons gebede verhoor, óf deur ons
omstandighede te verander, óf deur onsself te verander. Is óns gerééd,
om die effek van gebed te absorbeer in ons lewe. Indien wel, dan kán
ons opreg bid: “Bly by my, Heer.” Lees gerus weer Lied 582 in die Liedboek.
Die eerste vers lees treffend: “Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal;
laat steeds U lig my lewenspad omstraal! Daar is geen ander hulp of
troos vir my – Hulp van die hulpelose, bly my by.”
Ons moet bly bid: “Bly by my, Heer”, en Hy sal ons met lewensenergie vul,
wat die sinisme en negatiwiteit verdryf, en ons visier instel sodat ons weer
moed kan hê en lééf. Daarom sê die Woord van God:
“Bid gedurig” – 1 Tess 5:17. Bid sonder ophou.
Ernest