Matteus 7:1-3:
“Moenie so gou foutvind nie.
As jy ander mense links en regs veroordeel,
gaan God eendag presies dieselfde met jou doen.
Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewens uit te snuffel,
terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe?”
Jesus beklemtoon dit dat ons nie mense moet veroordeel nie!
Moeder Teresa het gesê:
“As jy iemand oordeel,
het jy nie plek oor om die persoon lief te hê nie.”
Soek altyd die goeie in ander.
Verwerp die verkeerde dade of woorde,
maar nie die persoon nie.
Almal is gemaak na die beeld van God.
Kenneth L Wilson het ook gesê dit is makliker
om te sê hoe ander moet leef, as om dit self te leef.
Ons oordeel dikwels mense se hele menswees op grond van
een aspek van sy lewe.
‘n Boom gaan verskillend lyk wanneer jy in die verskillende seisoene daarna kyk.
Sonder blare.
Dan met bloeisels.
Dan met blare.
Dan met vrugte.
Alles dieselfde boom.
Moenie die boom beoordeel
net op grond van hoe dit in winter lyk nie.
Of net op grond van die vrug in somer nie.
So is dit ook met mense.
Ons moet maar weer ons oordeel, ons blinde kolle,
en onsself konfronteer.
Ons moet ophou dink dat God se genade eksklusief vir my, of my groepie is….
Ernest