Dit gebeur met ons, dat ons ten spyte van die beste bedoelings
in ons verhouding met die Here, onsself heeltemal teleurstel.
Dit was ook so met een van die binnekring in die dissipelgroep.
Een van hulle wat die naaste aan Jesus beweeg en geleef het.
Petrus. Hy het die beste voornemings gehad om by Jesus te staan
tot die einde toe. Hy het selfs die swaard getrek om Jesus te verdedig.
Daar by die vuur in die binnehof van Kajafas se woonplek, daar verloën
hy toe vir Jesus.

Máár, later, na die opstanding, het Jesus hulle op die strand ingewag.
Hy vra net een vraag aan Petrus: Het jy my lief, Petrus? Indien wel, het Ek
vir jou werk: Pas my skape op. Sorg vir die mense wat in My glo. Petrus sou
seker kon vra: Wié, ék? Jesus is die een wat verstaan... God verstaan.
Al het jy voorheen verbrou, en al verbrou jy soms ook nou, God verstaan.

God kyk nie na ons geloof soos ‘n visserman wat na sy lyn kyk nie. As ons
na ‘n lyn kyk, kyk ons na die breekkrag, wat die lyn kan doen sonder om te breek.
God kyk nie hoe ver Hy ons geloof kan rek voordat dit breek nie. God hou nie
rekord van die progressiewe of regressiewe spankrag van ons geloof nie.
Die liefde hou immers nie boek van die kwaad nie. God kyk glad nie hoe sterk ons
geloof is nie. Hy is besig om ons te leer loop op ons geloof-bene. God is ons Vader
wat ons wil leer om self te loop. Hy verstaan as ons van tyd tot tyd neerslaan en
huil, soos ‘n klein kind wat leer loop.

Die gebeure daar by die see moes Johannes diep aangegryp het. Hoe moes Petrus
se gewete hom nie veroordeel nie?! Johannes skryf later in 1 Johannes 3:20:
“As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.”
God weet meer as wat jou gewete weet. God verstaan jou waar jy nie eers jouself
verstaan nie... God sien volkome in perspektief.

God kyk diep in jou hart en weet hoe opreg jy is om voluit vir Hom te wíl leef.
Die Ou Vertaling het dit so gestel: “... want as ons hart ons veroordeel, God is
meer as ons hart, en Hy weet alles.” God kyk diep in jou hart en weet hoe opreg
jy probeer. Hy weet wanneer dit vir jou baie moeilik is. Hy sal weer jou hand vat
en jou weer op jou voete help. God het geduld met ons. Hebreërs 2:18 sê van
Jesus: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”
God verstaan. Jesus verstaan. Die Heilige Gees wat ons lei, verstaan.

Martin Luther het gesê: “As ek niks anders as my hart gehad het wat my
beoordeel nie, sou ek my aan die eerste en beste boom opgehang het.”
Natuurlik, want dan het ons geen ander heenkome gehad met ons skuld en ons
mislukkings nie. Dan was daar niemand wat verstaan het nie. Wanneer ons weer
‘n keer gefaal het ten spyte van ons beste bedoelings, en radeloos en moedeloos
word, en skuldig staan voor God, kan ons weet: Hy verstaan. Dan kan ons wéér
en wéér bid: “Bly by my, Heer.” Staan weer op! Die Here is naby!

Ernest