Na Josef se dood het ‘n nuwe Farao in Egipte aan bewind gekom.
Hy het die Israeliete erg verdruk. Hy het besluit alle pasgebore baba
seuntjies onder die Israeliete moet doodgemaak word. Kan jy jou hierdie
haglike omstandighede indink!? Een van die ma’s het haar baba in ‘n mandjie
tussen die biesies in die Nylrivier gaan versteek om sy lewe te probeer red.
Een van die Farao se dogters het die kind ontdek en grootgemaak. Hierdie
einste kindjie, wat in die koninklike kringe grootgemaak is, sou later ‘n
onuitwisbare invloed hê op die geskiedenis van Israel. Hoe ironies!
Dit is natuurlik niemand anders as Moses nie.
Die Here gebruik menslik-onmoontlike situasies, hopelose situasies,
om sy doel met mense te bereik. God beskik dit so dat ‘n Egiptiese prinses
vir Moses ontdek en hom veilig grootmaak. God weet wat Hy nog deur Moses
vir sy volk sou doen. God kan in enige situasie in jou lewe besig wees om sy
goddelike doel te bereik met en deur jou lewe. Selfs wanneer alles vir jou
hulpeloos lyk, is God teenwoordig. Hy kan enige krisis in ‘n oogwink omdraai.
Geen nag in jou lewe is te donker dat God nie sy goddelike lig daar kan laat
skyn nie. Ook in jou lewe doen God dikwels die “onmoontlike”, en net so
dikwels is jy nie eers daarvan bewus nie. Al voel jy hulpeloos, weet dan dat
jy ook vandag in die hande van die lewende God is. Dit is die veiligste plek
om te wees, al lyk dit hoe hulpeloos om jou.
God is nooit te besig om te luister en jou gebede te hoor nie.
God se program is ook nie te vol om aan jou aandag te gee nie. Hy gebruik
gewone mense soos ons, om sy werk op aarde te doen. Gewone mense
wat ook voete van klei het. Soos ons. Neem maar vir Moses: Hy was nou
nie juis ‘n engel nie. Hy moes vlug na hy ‘n Egiptenaar doodgemaak het.
Hy is so gewoon soos kan kom. Hy pas vir veertig jaar kleinvee op in die
woestyn. Totdat... totdat God besluit om sy volk uit Egipte te lei.
Toe gaan haal Hy Moses by die brandende braambos. Moses het
groot geskrik. Hy gewone mens... en God praat met hom! Eksodus 3:6:
“Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk”.
Hy staan op heilige grond. Hy wat ‘n gewone veewagter was, was skielik
in die teenwoordigheid van die Almagtige God!
Ons leef deurgaans op heilige grond... Dink net daaraan...
God is deurgaans by ons teenwoordig en die Heilige Gees woon in ons!
Moses wat nie eers goed kon praat nie,
moet nou “namens” God gaan praat.
Gewone mense, soos ons, word instrumente in God se hand.
God doen dit, deur ons. Vandag nog. Jy hoef nie belangrik te wees en
‘n uitstekende CV te hê nie. God neem jou net soos jy is en gebruik jou
soos Hy wil en waar Hy wil. Luister net na Hom, en gaan waar Hy jou
stuur, met die gebed: “Here, gebruik my oral vandag, soos U wil”.
Ernest