In Wie se Naam gaan ons na die wêreld en leef ons in die wêreld?
Wie stuur ons? Ons sê so maklik: In God se Naam. Besef ons die
grootheid daarvan? Wanneer Moses deur God gestuur word om die
Israeliete uit Egipte te lei, dan vra hy wat hy vir die volk moet sê,
Wie hom gestuur het? “Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is.
Jy moet vir die Israeliete sê: “Ek is” het my na julle toe gestuur”
– Eksodus 3:14.

Shakespeare het by geleentheid gevra: “What’s in a name?” Alles,
alles is in ‘n naam. As mense aan ons dink, dink hulle by name aan ons.
Jy en jou naam is onafskeidbaar verbonde. As jy “naam weggooi”, gooi
jy ook jou integriteit weg. As jy jou naam deur die modder sleep, sleep
jy jouself deur die modder.

God se Naam is baie belangrik. Verskriklik belangrik. Ondenkbaar groot.
Sy Naam is só groot en heilig dat Hy mense verbied om sy Naam sommer
net so sonder nadenke en opregtheid te gebruik. Dit is regtig baie erg om
te dink en te hoor hoe God se naam in ons daaglikse lewe, sonder eerbied
vir Hom gebruik word, en dit óók deur kinders van God... sommer so as
spasie vuller, of stopwoord, om meer “krag” aan ons eie woorde en
gedagtes te gee.

God se Naam sê Wie Hy is. Dit wys na Hom wat die Allerheilige en die
Almagtige is! Die Skepper van die heelal! Die Verlosser van die mens.
God se Naam troon bo letterlik alles uit. Sy Naam is die grootste en
belangrikste Naam in die heelal! Die heiligste. Ons durf God se Naam
nie onnadenkend op ons lippe neem nie. Ons moet berekenend dink,
praat, en bedoel wat ons sê, wanneer ons sy Naam gebruik.

God sê vir Moses by die brandende braambos dat Hy selfs groter is
as sy Naam. God se Naam kan Hom nie eers omvat of beperk nie.
Ons kan nooit vir God in sy Naam vasvang nie! God sê oor Homself:
“Ek is wat Ek is”. Dit beteken Hy is groter as elke woord wat ons oor
Hom kan sê. Groter as wat ons oor Hom kan dink of praat. God is gróót!
Gebruik sy Naam met eerbied. Dien Hom met ontsag.

Dirkie Smit het gesê: “Die primêre manier waarop die Naam van die
Here ontheilig word is nie net deur die Naam ydellik te gebruik nie,
maar om só in die Naam van die Here te leef dat ander mense vir die
Here lag en met die Here spot. Dan ontheilig óns die Here.”
Ons moet sy Naam met eerbied gebruik in elke woord,
en ons moet ook sy Naam met eerbied lééf, in elke daad.

Ernest