Eksodus 4:10: “Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here,
ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou,
hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar en my tong sukkel.”
Ons hoor sommer in hierdie woorde van Moses die onsekerheid oor die
grootheid waarvoor hy staan, en waar God hom wil stuur. Hoe maklik
deins ons nie ook terug voor die roeping van die Here en waarheen Hy
ons stuur nie.

Dit is opvallend in die Bybel, dat almal wat kragtig deur die Here in sy
diens gebruik is, altyd bewus was van hulle eie swakheid. Moontlik het
dit ook te doen met die bewustheid dat jy dit vir die Here doen. Toe God
vir Jesaja roep, het hy soos ‘n dooie aan sy voete neergeval en gewens
dat hy liewer moet sterf – Jesaja 6. Jeremia het geprotesteer dat hy veels
te jonk is vir die Here se werk – Jeremia 1. Eeue later het Petrus vir die
Here gevra om liewers van hom af weg te gaan, want hy is maar ‘n
sondige man – Lukas 5.

Moses sê dadelik vir die Here dat hy eintlik maar die verkeerde man vir
hierdie groot taak uitkies. Hy is veels te swak en met sy “spraakgebrek” is
dit ‘n nog groter probleem. Stuur tog asseblief iemand anders! Soos sy
broer Aäron. Maar God maak nie foute nie. God kies altyd reg. Daarom
reageer God so oor Moses se onwilligheid met vers 11-12: “Wie het aan
die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind?
Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat
en jou leer wat jy moet sê.” Die Here sê: Gaan nou!

Gaan nou...! Ons deins so dikwels terug en moet weer by die Here hoor:
Gaan nou! Daarom dat God ook verby Jeremia se jonkheid kyk, en Jesaja
en Petrus se swakheid en onwilligheid. God gebruik hulle ten spyte van!
So ook elkeen van ons wat Hy roep en stuur in die daaglikse lewe,
om Hom te gaan verteenwoordig by die mense.

Wanneer jy voel jy is net die regte persoon vir die Here se werk,
is jy heeltemal te vol van jouself... Maar as jy besef jy is eintlik te swak,
en jy is so totaal van die Here afhanklik vir waarvoor Hy jou roep en stuur,
dan kan en sal Hy jou regtig gebruik tot sy eer! Die Here gebruik gewone
mense wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is. Wees net beskikbaar en
gehoorsaam aan Hom. Hy sal voorsien.

Matteus 5:3: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Ernest