Wanneer Moses en Aäron voor die Farao gaan staan, in God se Naam,
in Eksodus 5:1, dan sê hulle: “So sê die Here die God van Israel: Laat my
volk gaan om tot my eer ‘n fees in die woestyn te vier.” Let op die Farao
se antwoord in vers 2: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister
om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan
nie!” Die wêreld wat die Here nie erken nie, sê dit vandag nog dikwels
met woord en daad: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister...”
Baie mense spot met God. Ons beleef dit openlik in films, TV-programme,
by die werk of waar ons sport en ontspan. Mense dink niks daarvan om
God se Naam voor en agter te gebruik in alles wat hulle sê en doen nie.
Selfs spottenderwys word oor God gepraat en neerhalend na gelowiges
verwys wat Hom dien. Die Bybel word as ‘n storieboek afgeskryf. Dit het
geen gesag vir ongelowiges nie. Maar, dit was eintlik maar nog altyd so!
Die media wat ons deesdae oor beskik, stoot dit net meer op die voorgrond.
Ons neem net meer kennis daarvan in die openbare media, as tevore.
Neem nou maar die Farao hier in Eksodus. Toe hy hoor van Moses se God
wat beveel dat die Israeliete woestyn in moet trek, om Hom daar te gaan
dien, het hy minagtend na God verwys. Sy gode in Egipte was immers veel
sterker in sy oë, as die God van Moses en Aäron. Eintlik dink hy ook maar
hyself is veel sterker as die God van Moses en Aäron. Want kyk wat doen hy:
Om sy punt te bewys laat hy die Israeliete nóg harder werk en meer ly onder
Hom wat die Farao is. Hulle moes nou swaarder kry omdat hulle leiers voor
die “magtige “ Farao kom staan het namens hulle. Hulle het die magtige
Egiptiese gode kom uitdaag.
God se eer is vandag nog steeds in gedrang. Dit was nog altyd so, en dit sal
so wees tot aan die einde van die wêreld. Ons moet in die konteks waarin ons
leef sorg dat God se Naam beskerm word deur óns wat in Hom glo en Hom dien.
Ons bid ook immers “Laat U Naam geheilig word...” God is nie van ons afhanklik
vir sy heilige Naam nie. Hy is heilig en sy Naam is heilig, ongeag ons. Maar ons
dien die enigste lewende en ware God, en ons maak sy Naam groot waar ons
ook al leef! Ons moet God se heilige Naam reg gebruik en met groot eerbied
gebruik. Ons moet mense wat God se Naam in ons teenwoordigheid ligsinnig
gebruik help en waarsku dat hulle met vuur speel. Ons moet dan juis ook
waardige getuies wees wat ons geloof openlik uitleef.
Dit is ons roeping in hierdie stukkende wêreld.
Dirkie Smit het beklemtoon: Die primêre manier waarop die Naam van die
Here ontheilig word, is nie soseer as ons die Naam van die Here ydellik gebruik
nie. Dit is as ons in die Naam van die Here so léwe, dat ander mense lag vir die
Here en spot met die Here. Dan ontheilig ons veral ook die Naam van die Here.
Ernest