Dit klink op die oog af vergesog om, met alle eerbied gesê,
“arm te druk” met God. Dit is net ‘n beskrywing van wat ons soms
dink en sê en voel in ons verhouding met God. Moses sê in Eksodus 5:22
vir die Here: “Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom
het U my nou eintlik gestuur?”
Partykeer voel ons so half moedeloos met die Here. Ons bid en bid,
maar niks gebeur nie. Ons dink ons doen alles wat Hy van ons vra, maar
ons probleme en swaarkry wil maar net nie ophou nie. Moses het ook
so gevoel, as ons kyk na wat hy hier vir die Here sê. Die Farao het besluit
dat die volk nog méér sal werk en ly, as voor Moses en Aäron met die
Farao gaan praat het. Nou sien Moses dit en beleef dit eerstehands.
Het die Here dan nie hieraan gedink nie, dat daar slegte gevolge kan
wees om met die Farao te gaan onderhandel? Die Here moes mos weet...
Toe Moses sien hoe die Farao die Israeliete dubbel en dwars laat swaarkry,
het hy ‘n baie ernstige gesprek met die Here hieroor gevoer. Moses verwyt
half die Here dat Hy sy volk in die steek laat. Hy doen op die oog af niks nie!
Moses gaan praat sommer kortpad en reguit met die Here. Hy draai nie
doekies om nie. Ons kanaliseer ook dikwels ons frustrasies reguit hemel toe.
Maar, die goeie nuus is: God antwoord hom met die versekering dat Hy gáán
ingryp. Binnekort sou Moses en die Israeliete God se groot krag in akse sien.
Die Farao weet nie wat hom gaan tref nie...
Wanneer dit vir jou voel asof die Here net nié haastig is, soos jy nie, en talm,
om uitkoms te gee, moet jy nie dink die Here hoor jou nie. Hy weet, hoor en
sien alles! Jy moet ook nie moedeloos raak in jou gebede en dink God is te
besig vir jou nie. Ons dink so klein oor God... Maak al jou nood en pyn aan
God bekend. Jy kan in niks by Hom “die nuus gaan breek” nie. Hy weet!
Dit gee ons juis ook meer vrymoedigheid, dat God reeds weet!
Maar, ons tyd is nie God se tyd nie. God bereik sy doel met mense en
omstandighede vêr bo wat ons dink of bid. Hy weet alles van ons. Hy weet
wat is die beste vir ons. Al bots dit lynreg met ons wil, en dikwels ons selfsug
en kortsigtigheid. Ons moet ook onthou: Ons is by die Een wat sterker is as ons.
Hy is in die hemel én op die aarde, en ons is nét op die aarde.
Al praat ons hoé reguit met God, ons aanbid en dien Hom steeds
as die enigste Lewende God! Hy het ons innig lief!
Ernest