Ons het dikwels verskonings hoekom ons nie iets vir die Here
kan of wil doen nie. Ons het nie tyd nie, ons is net te besig. Of ons is
te skaam. Dan gaan dit meer oor jouself. Of ons dink ons kan nie, soos
Moses. In Eksodus 6:11 sê hy: “Die Israeliete luister nie eers na my nie,
hoe sal die Farao nog na my luister? Ek praat juis nie maklik nie.”
Dit is partykeer nie maklik om vir die Here te werk nie. Of om net aan
Hom gehoorsaam te wees nie. Moses het die gevaarlike en ondankbare
werk om met die Farao te gaan praat, en hom te probeer oortuig om die
Israeliete te laat gaan! Hy moet ook boonop nog die volk oortuig dat die
Here hulle binnekort van die slawerny gaan verlos! Nóg die Farao, nóg die
Israeliete wou na Moses luister. En om alles te kroon moet hy hulle ook
nog met ‘n spraakgebrek en al gaan oortuig. Die mense het alreeds swaar
na Moses geluister. Daarom het hulle hom nie in hierdie stadium ernstig
opgeneem nie.
Moses is ook self half moedeloos. Dit is nou eenvoudig te veel gevra.
Almal is teen hom, en God maak dit nóg moeiliker met die herhalende opdrag:
“Laat my volk trek.” Om die Here te dien en te gehoorsaam vra ‘n prys. Jy moet
verby jou verskonings kom, en vasbyt! Soms is daar soveel teenslae op jou pad
dat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Maar onthou: Wanneer God van jou
verwag om iets te doen sal Hy dit vir jou moontlik maak.
Hy vra nooit die onmoontlike van sy kinders nie.
Maar God gaan nóg verder as wat Moses verwag! “Maar Ek sal die Farao
hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen.” – Eks 7:3.
Moses se moed het seker in sy skoene gesak. God gaan die Farao nog hardkoppig
óók maak! Aan wie se kant is God nou? Die wonderlike lê natuurlik in die tweede
deel van die sinnetjie: “... Sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen.”
God is totaal in beheer en sal Homself ook nog verheerlik in die wonders en tekens.
Hy stuur ook vir Aäran saam om Moses te help “praat”. God belowe verder om vir
hulle bonatuurlike kragte te gee, om die towenaars van Egipte te uitoorlê.
Die Here het steeds beheer, en sal altyd beheer hê oor alles, tot in ewigheid.
Hy stuur bystand in elke storm. Ons beleef dit dalk nie, of sien dit nie raak nie.
Daar sal altyd uitkoms van die Here wees. Dit is natuurlik nie altyd hoe ons dit
sou wou hê nie. Maar oor wie gaan dit uiteindelik? Oor God! Nie oor ons nie.
Hy sal sy Goddelike doel bereik. Deur ons, en soms ook ten spyte van ons.
Vertrou Hom vir meer as wat jy dink, sien of beleef. God is aan die stuur!
Ernest