Moenie bekommer nie, God is in beheer.
Mense kyk jou snaaks en skeef aan as hulle by jou hoor “moenie bekommer nie”.
Ons leef verseker nie in maklike tye nie. Ons kan nou aanhou en aanhou daarop
voortborduur. Die smart-vrate, mense wat “uit-gestress” is, en mense wat met
hangende skouers loop, kan jou vertel dat daar geen hoop op ‘n toekoms is nie.
Hulle kan ook verskeie redes aanvoer, ter stawing. Waar gaan alles heen? Alles
ruk nou handuit! Dit is klaar met ons... is maar ‘n paar van talle opmerkings oor
“ons” toekoms.

Ook gelowiges is nie elke dag totaal kommervry nie. Die belangrike is om die
hemelse perspektief te kry. Het God in ons konteks nou minder belangrik geraak
as ons? Al die bekommernis draai om ons welstand, ekonomie, ons belange, ons
beleggings, ons...ons...

Dink nou weer aan die Israeliete in Egipte. Hulle was letterlik slawe. Hulle was
baie slegter af as “ons”. Maar dit is duidelik uit die Bybel dat God hulle nie vergeet
het nie én hulle ook hóór. Hulle het saam met die Egiptenare plaag op plaag aanskou...
Tog was God steeds in beheer! Agter al die chaos rondom hulle was Hy besig om ‘n
nuwe pad vir hulle voor te berei. Sy krag en trou sou sigbaar word.

Die probleem is dat óns bekommernis ‘n oorhand laat kry oor ons menswees vir God.
Uiteindelik verteenwoordig ons nie meer vir God in hierdie wêreld nie, maar eintlik
net onsself. Hoeveel keer het die Here Jesus Self nie vir ons gesê om ons nie te
bekommer nie. Dit beteken nie ‘n passiewe aanvaarding van alles, en laat God’s
water oor God’s akker loop nie. Kinders van die Here is uiteindelik nie slagoffers
van die noodlot nie. Wat is die oplossing? Hou op dat bekommernis jou lewe beheer.
Hoe? Gee jou bekommernis vir God en vertrou Hom met jou lewe.

Die mees skrikwekkende plaag was die dood van die Egiptenare se eersgeborenes.
Maar die eerste Paasfees daar in Egipte was vir God se volk ‘n nag van redding.
Tot vandag toe weet ons dat Paasfees heenwys na bloed tot redding. Die Man van
die grootste van alle smarte, die kruis, se bloed het gevloei dat ons vry kan wees
en vry kan leef. God bereik altyd sy doel. God kan enige situasie gebruik om sy doel
te bereik. God is nooit oor raad verleë nie. God is nooit in ‘n hoek nie.
Leef by God, en nie in bekommernis nie. Moenie dat jou bekommernis
‘n mosie van wantroue in God se teenwoordigheid by jóú word nie.

Ernest