Geloof vra om te ‘”kyk” wat die Here doen. Om sy grootheid en trou
in die moeilikste omstandighede raak te sien. Om self in die moeilikste
omstandighede te bly glo. In Eksodus 14 vers 13 sê Moses dit van die
Israeliete: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle
vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal
julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir
julle veg.” Wanneer krisis jou in die gesig staar: Moenie bang wees nie.
Staan vas, in geloof. Kyk hoe die Here red. Bly maar kalm. Die Here sal...

Skaars was die Israeliete weg uit Egipte, of die Farao en sy leër was op
hulle hakke. Hulle wou die Israeliete vernietig na die sterwe van al hulle
eersgeborenes. Die Israeliete was natuurlik vol vrees toe hulle die leër
van Egipte sien wat hulle agtervolg. Hulle is ook dadelik kwaad vir Moses.
Hy het hulle nou die woestyn ingelei om te sterf! Hulle verwyt hom.

Moses is egter nie ontsteld toe hy die vyand se leër sien nie. Hoe het
hy nie in geloof gegroei nie! Hy wat bang was en nie met die Farao wou
onderhandel nie... Nou weet hy die Here is by hom. Al het hy geen
opgeleide soldate of wapens by hom nie. Hy sê vir hulle:
Die Here sal vir hulle veg. Die Here sal red.

Geloof vra moed. Dit vra durf in die aangesig van ‘n oormag.
Dit vra dat jy verby die krisisse steeds vir God raaksien wat teenwoordig
is in jou lewe. Moses kyk verby die krisis na God wat in beheer is. God is
groter as enige krisis. Niks kan met Hom vergelyk word nie. Maak vandag
ook jou geloofsoë oop en sien God. Soos Moses sê: Staan vas en kyk...
hoe die Here vandag gaan red!

Ernest