Dikwels voel ‘n mens in jou bekommernis soos die skrywer van Psalm 121.
Hy skryf in verse 1-2:
“Ek kyk op na die berge:
Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
Hy skryf dan verder hierdie merkwaardige vers 3-4:
“Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm slaap nooit nie.
Waarlik, die Beskermer…..sluimer nie in nie,
en Hy slaap nie.”

Dit is asof die Here vir jou sê jy kan maar gaan slaap.
Hy is in elk geval wakker en bly wakker.
Hy slaap nooit nie!
Dit is nie nodig dat jy bly wakker lê met bekommernis nie.
Hoekom wil jy bekommer as jy kan vertrou?
Bekommernis is soos ‘n rystoel waarop jy ry en ry, en nêrens kom nie.
Gee jou bekommernis vir die Here en vertrou Hom.
Moenie daaroor wakker lê nie.
Hy is wakker daarmee…

Psalm 121 begin met ‘n geloofsverklaring.
Waarskynlik is die persoon op pad na Jerusalem, en die tempel.
Of moontlik op pad terug huis toe.
Dit was nie altyd ‘n veilige pad vir reisigers nie.
Wilde diere en rowers was ‘n probleem.
Waar kom hierdie gelowige se hulp en beskerming vandaan?
Van “die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Van vers 3 af volg dan die seën vir elke gelowige om te weet;
Die Here is elke oomblik en elke tree van jou dag en nag by jou.
Maar Hy is nie bloot ‘n toeskouer nie.
Hy beskerm en bewaar jou!
Hy wat jou beskerm slaap nooit nie.
Waarlik, jou beskermer sluimer nie in nie, en slaap nie.
Nooit nie.
“….nou en vir altyd”, sê vers 8.

Die Here sien om na jou konkrete vrese en bekommernisse.
Hierdie wete gee jou die moed en die krag,
om regtig elke dag en nag ten volle in die oë te kyk, en daarin te leef.
Vers 6:
“Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.”
Hiermee word gesê dat die Here 24/7 jou beskerm en bewaar!

Hou op bekommer en vertrou die Here met jou hele lewe!!

Ernest