Wanneer ons net fokus op ons probleme, sien ons later nie meer
vir God raak nie. Hoe groter jou probleem vir jou is, in jou eie oë,
hoe kleiner is God se krag, vir jóú. Jy verloor perspektief en sien
later net jou probleem raak. Jou krisis maak jou later blind vir God.

Die Israeliete beleef dit ook so. “Toe het die Here vir Moses gesê:
“Waarom roep julle so benoud na my?” – Eksodus 14:15.
Hulle sien net die aanstormende Egiptenare raak. Nie vir God nie.
Maar God gryp in. Hy trek sy vuurkolom daardie nag rondom sy
mense. Die volgende môre het Hy die see wat voor hulle gelê het,
in twee gekloof sodat hulle droogvoets daardeur kon trek.

Die Egiptenare sit hulle agterna, maar Moses steek net sy hand uit
oor die see, en die see vernietig die Egiptiese leër. Die Israeliete
kon nie hulle oë glo nie. Hulle is stom verbaas. Maar toé het hulle
in die Here geglo. Toe het hulle iets begin verstaan van hoe groot
God is. Hulle het begin verstaan wat Moses vir hulle sê, want Moses
het ook, net vroeër, dieselfde pad geloop en moes dit ook uiteindelik
daar in Egipte begin glo.

God doen wonderwerke. Dinge wat ons dikwels dink gewoon is,
en maar “toevallig” begin regkom het, is God se werk! God doen
wonderwerke. Al God se werk is wonderwerk! Niks is vir God
onmoontlik nie. Niks! Kyk vandag in jou lewe en omstandighede
op na Hom. Hy kan nasies verstrooi en die see oopkloof om sy
mense te red. Hy het al hoeveel keer in jou lewe tot jou redding
gekom, baie kere waarvan jy nie eers weet of van bewus was nie.
Hy kan enige iets doen. Letterlik enige iets. Vertrou Hom met jou
hartseer en jou vreugdes. Vertrou Hom met die gewone en die
onmoontlike. Vertrou Hom met jou hele lewe en ook met die lewe
van hulle vir wie jy so lief is.
Hy doen vandag in jou lewe wonderwerk. In elke asemteug,
in elke hartklop waarin jy leef. Hý doen dit!

Ernest