Nadat die Here die Israeliete gered het, het Moses
en die Israeliete ‘n loflied tot eer van die Here gesing in
Eksodus 15:1-18. In vers 2 sing hulle: “Die Here is my krag en
my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God,
Hom roem ek… Hom prys ek”.

Ons kan dikwels in ons probleme en teenslae negatief raak en
kla en kla. Ons kla partykeer sommer net oor alles, veral oor ons
land en die toestand in ons land. Later is dit ‘n slegte gewoonte.
Ons raak oor alles foutvinderig sonder om dit eers agter te kom.
Ons dink en redeneer dat ons maar net realisties is. Uiteindelik is
niks ooit reg of goed nie. Dit is ‘n gevaarlike plek om in te land.
Ons raak bemoeisiek en is met niks tevrede nie. Ons lewe gaan
net elke dag by ons verby en ons mors die kosbaarste wat ons het,
ons lewe in die Here. Dalk voel hierdie nou soos uiterstes.
Die vraag is: Waar is jy tans in jou lewe met betrekking tot
hierdie proses. Hoeveel kla jy, of hoeveel lééf en lóóf jy...
vir God!

Wanneer ons die Here dien leer ons om by elke klein
probleempie verby te kyk en die groter prentjie raak te sien.
En ook die groot probleme neem ons in gebed na Hom wat in
beheer is. Dan sien ons vir God raak in elke knik in die pad,
en ook in die groot gevare op die pad. Dan leer ons om Hom te
loof en in Hom te leef, ongeag ons omstandighede.
Ons is nie ontkennend nie, maar lééf meer doelbewus,
in sy teenwoordigheid.

Lof aan God is die belangrikste rede vir ons bestaan. Ja, jy lees reg.
Lees dit weer en oordink dit. Lof is dit wat elke dag op ons lippe
moet wees. Lof is dit wat ons lewe stuur. Daar is altyd baie meer
redes om God te loof as om in twyfel en vrees te leef. God is groot
en goed, oorvloedig goed, in jóú lewe. Die hele Bybel wys hoe God
hemel en aarde beweeg om met sy goedheid by ons te wees.
Daarvan is die kruis van Jesus Christus die grootste getuienis.
Moses en die volk se lofliedere was met die wete, die besef:
God is tot enige iets in staat, ver bo wat ons kan dink, sien of beleef.
Hy alleen is God en Hy doen die menslik onmoontlike ter wille van
die mens, tot sý eer! Hy alleen is Heer!
Wat komponeer jy met jou lewe? Lofliedere, of klaagliedere?
Kom ons tel regtig ons seëninge en lééf lóf aan God!

Ernest