God sorg in die fynste besonderhede in jou lewe.
God sorg in die fynste detail. God is teenwoordig met sy sorg
in die kleinste dingetjie waarby ons sommer onnadenkend
verbyleef, omdat ons dit as vanselfsprekend aanvaar.
Die waarheid is, God is ook dáár! Ons is eintlik so dikwels net
so ondankbaar soos die Israeliete. Skaars het hulle die grootste
wonder denkbaar beleef daar by die Rietsee, of hulle kla al weer
hoe swaar hulle kry! Met hulle hongerpyne protesteer hulle,
luidkeels by Moses. Nou skielik, was Egipte weer baie beter as
waar hulle nou is. Maar...
God gryp wéér in! In Eksodus 16:12 sê God: “...teen skemeraand sal
julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat
julle kan besef dat Ek die Here julle God is”.
Hoor net... “sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.” God het
sý tyd om sý doel te bereik. Uit die bloute stuur God kos. Letterlik uit die
bloute. Manna en kwartels het daagliks op die volk neergereën.

God het wéér voorsien. God voorsien in die fynste detail. Hy kom lewer
letterlik hulle kos af op ‘n daaglikse basis. Dink net daaraan: Hoe sou jy
dit beleef? Hierdie wonder van God? Hy beloof oor en oor in die Bybel
dat Hy op ‘n daaglikse basis vir jou sal sorg. Die eerste belewenis daarvan,
elke dag, moet eintlik lof aan God wees, as jy in die oggend wakker word
en beleef jy haal asem! God het deur die nag, selfs in jou slaap, elke
asemteug aan jou voorsien. As jy opstaan is daar kos en klere. Geliefdes.
Geleenthede. Ons kan net aanhou en aanhou opnoem... noem maar op!

Ons kan God se seën proe in elke stukkie brood. Ons kan dit aan ons lyf
voel wanneer ons die klere aantrek wat ons het. Ons beleef dit in die
eerste groet van die dag. Ons sien met ons oë die dag. Ons hoor met ons
ore die lewe se hartklop vir God. In die fynste detail kan ons dit beleef,
die oop hand en hart van God! Vraag is: Sien ons die Here se hand raak
in die “kleinste en gewoonste dingetjies” van die dag... en die nag?
Jaar in en jaar uit, dag in en dag uit, uur in en uur uit, in elke asemteug
en hart se klop. Dankie Here, my God...

Ernest