Uiteindelik het Moses en die Israeliete by Sinai aangekom.
Daar hoor hulle in Eksodus 20:2: “Ek is die Here jou God wat jou…”
Hier het die Here deur Moses met die volk gepraat en sy wil vir
hulle en ons in ‘n neutedop saamgevat. Dit was heilige oomblikke...
‘n Ontmoeting tussen hemel en aarde. So heilig was hierdie oomblikke
in die teenwoordigheid van die Here, dat hulle hulle spesiaal moes reinig
vir hierdie afspraak. Die aarde het geskud en gebeef, want die Here, die
Almagtige was daar. En tog nooi Hy ons vandag na Hom toe. Hy doen dit
om Jesus ontwil. Met die kruis het die aarde ook gebewe. Jesus het ‘n
nuwe pad vir ons na God gebou. Hy het die kloof oorbrug.
Jy kan vandag na God toe kom!
Die tien gebooie van God, is die hart van alles wat Hy van ons vra.
Jesus vat dit ook saam: Jy moet God bo alles liefhê, en jou naaste soos jouself.
Omdat jy in God se Seun glo het Hy jou uit genade kom red. Jy hou nie die wet
vir redding nie, maar jy leef dit uit as dankbaarheid!... vir wat God in Christus
vir jou kom doen het.
Jy sê elke dag met jou dade van gehoorsaamheid vir God dankie vir sy
onuitspreeklike groot genade. God se tien gebooie is nou tien stippellyne om
ons die pad te wys waarop God saam met ons leef. Dit sê wat God se hart bly
maak en hoe ons vir Hom kan leef uit dankbaarheid. Dit dui koers aan en gee
sterk geestelike fondament. In elke gebod is dit primêr liefde vir God en liefde
vir my medemens. Dit verander al die verhoudings waarin ons staan!
Ons word elke dag die Here se sagte salf vir die stukkende wêreld.
Deur ons moet die Here se genesing sigbaar en voelbaar word.
Israel moes ook gereeld offers aan God bring om hulle skuld te bely.
Offers praat die taal van vergifnis en dankbaarheid. Deur die woestyn moes
die volk dit doen, en later in Jerusalem. En uiteindelik, op ‘n dag het God
besluit om van sy kant af dié offer te bring wat alles vir altyd sou verander.
Dit was toe Jesus mens geword het. God het sigbaar op aarde kom praat
en beweeg. Sy offer aan die kruis was so groot, so oorweldigend, dat dit
eens en vir altyd ‘n einde gebring het aan al die offers wat die mens vir
God kon bring. Ons kan geen offers tot redding bring nie.
God doen alles volmaak in Christus deur die Heilige Gees. Jesus het
tussen God en mens gaan staan en die mens se sondelas op Hom geneem.
Versoening in Hom vir altyd. Lewe deur die Heilige Gees tot in ewigheid.
Alles tot eer van God, Vader, Seun en Heilige Gees! “Ek is die Here jou God”!
Ernest