In ons lewe gebeur dit baie dat ons byname aan mekaar uitdeel.
Hierdie name hang soms ons lewe lank soos etikette om ons nek.
Dikwels maak sulke byname seer. Ander kere is dit ‘n kompliment,
en sê iets van wat iemand vermag het of wié hy of sy ís.

Ons, het ook by God sekere beskrywende name gehad, wat Hy ons
genoem het, name wie ons wás! Voordat Hy ons gered het! Ons lees
daarvan, onder andere, in Romeine 5:6-11.
Ons was in sy oë “magteloses”. Vers 6 sê: “Toe ons nog magteloses
was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses
gesterwe.” Ons was ook “goddeloses”, sê vers 6. “Sondaars” sê vers 8,
en “vyande” sê vers 10. Dit is wie ons was, en hoé God ons deur en
deur geken het!

Die wonderlikste ding gebeur van God se kant af! Hy kom skrap al
ons ou name in die Naam van Jesus Christus! Jesus Christus kom
verander dit persoonlik! God sy Vader was bereid om met ons,
in Christus, ‘n pad te begin loop toe ons nog sy vyande was! God het
sy Seun vir ons laat sterf toe ons totaal magteloos was en saam met
die goddeloses rondgehang het, sélf goddeloos, en die een sonde
na die ander ingeryg het.

Nou dra ons nie meer swaar aan enige van daardie name wat ons
“in die ou lewe” was nie. Daardie name is vir altyd verander deur die
nuwe naam wat ons van God ontvang het: “Kind van God”. Ons is nie
meer verlore sondaars nie, nie meer goddeloses nie, nie meer
magteloses nie. Ons is deel van God se eie familie. Kinders van God,
ons Vader in die hemel. God het alles gedoen!

Ons is nuwe mense omdat God ons liefhet! Eerste liefgehad het!
In Christus, deur die Heilige Gees, kon ons antwoord met die liefde
wat God in ons vir ons gee, ja, wat Hy vir ons gee. God het ons uit
genade gered sonder dat ons enige iets daarvan verdien. Sy redding
en genade kom uit sy liefde vir ons! Ons nuwe naam sê dit nou...
“Kinders van God”, en ons nuwe naam wys dit ook:
Ons lééf soos “kinders van God”!

Ernest