Romeine 5:14b-15: “Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom
wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met
die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf,
maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die
een Mens, Jesus Christus , gekom het, is veel oorvloediger aan baie
geskenk.”
Baie van ons ken seker die bekende slagspreuk van die drie musketiers:
“Een vir almal, en almal vir een.” Dit is wat Paulus bedoel as hy hier in
Romeine 5 vertel van Adam en Christus wat die verteenwoordigers van
die ganse mensdom is. Hulle verteenwoordig die twee groepe mense
op aarde. Volgens Paulus is daar net Adam-mense, en Christus-mense.
Dit is regtig almal vir een, Adam of Christus, en een, Adam of Christus,
vir almal.
Adam is die hoof van almal wat op die pad van die sonde voortleef.
Sy erfporsie vir almal in sy groep is sonde, en die dood – vers 14, en
oordeel en straf – vers 16.
Aan die ander kant staan Christus! Hy het ‘n ewige en beter nalatenskap
aan sy volgelinge gegee: genade – vers 15, vryspraak – vers 16, en
oorvloedige lewe – vers 17. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam
en Christus se geskenke aan die wêreld nie!
Adam se erfenis lei tot die dood. Christus se geskenk en erfenis lei tot
vryspraak en nuwe éwige lewe! Wanneer jy in Jesus se volgeling groep
‘n plek gekry het, deur die genade van God, is jy op die allerbeste plek
vir altyd! Vir ewig. Dan moet jy saam met almal wat in Hom glo, soos
een man sy Naam grootmaak. Almal van ons wat God se kinders is,
is almal een vir Hom! Want Hy was Een vir ons almal wat vir Hom leef!
Ernest