Romeine 6:11: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde
dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.”
Is daar iets soos groot wonderwerke en klein wonderwerke? Alle werk
van God is wonderwerk! As ons uit menslike oogpunt moet dink is hiérdie
seker die grootste wonderwerk van God:
Op ‘n “ongelooflike” manier het God Jesus se geskiedenis op aarde,
en óns geskiedenis op aarde ineengevleg aan die kruis!

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy ons ook saamgevat soontoe!
Hy het gesorg dat ons geskiedenis en sy geskiedenis by die kruis vir altyd
een word! Ons is in God se oë saam met Jesus gekruisig. Ons is saam met
Hom daar dood... want toe God vir Jesus aan die kruis verlaat het, het Hy
ook sy rug vir ons gedraai. Ons was daar ook regtig Godverlate saam met
Jesus. Daar het Jesus elkeen van ons ten volle verteenwoordig.
Hy sterf in ons plek aan die kruis!

Na sy dood was Jesus drie dae lank in die graf. Ons ook. So skryf Paulus
in Romeine 6. Dan die wonderlikste ewige verdere nuus: Op die derde
dag is Jesus deur God opgewek uit die dood! En ons ook! Ons is saam
met Jesus uit die dood opgewek. Ons lewe! Vir ewig saam met God, hier,
en hierna! Ons het Jesus se kruispad saam met Hom meegemaak deur
die genade en vergifnis van God. God het ons geskiedenis volledig dáár
met Jesus sin ineengevleg.

By Golgota het God die mens se geskiedenis totaal herskryf. Dit sál vir
altyd die grootste draaipunt in die geskiedenis wees. Van daar af word
van die geskiedenis gepraat as voor Christus, en na Christus! (v.C. en n.C.).
By Golgota is ons totale verlede herskryf, sowel as ons totale toekoms.
Wanneer jy nou omkyk na jou geskiedenis, sien jy die kruis en die
opstanding, nie meer die verwoesting van jou eie lewe nie. Wanneer jy
vorentoe kyk in jou geskiedenis, sien jy ware lewe saam met God,
tot in ewigheid! Soos iemand sê: Ek is wáárlik gebore by die kruis.
My geskiedenis begin nou daar.

Toe Leith Anderson gevra is om in één sin vir ‘n sekulêre
gehoor iets oor God te sê was sy woorde: “Jý maak saak vir God.”
Augustinus van Hippo het dit treffend só gesê: “God het jóú so lief
asof jy die enigste persoon in die wêreld is, en Hy het álmal so lief.”

Ernest