Christus alleen het die mag om mense vry te maak.
Paulus skryf is Romeine 7:6: “Maar nou is ons vrygemaak van
die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet
waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe
bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte
nie.” Maar nou is ons vrygemaak van die wet...!

Die wet van Moses is ‘n goeie gawe uit God se hand. Daar is egter
net een probleem: Sonde is sterker as die wet. Ja, jy het reg gelees.
Sonde is sterker as die wet, want die wet besit geen inherente krag
wat die mense kan help om dit te onderhou nie.
Die wet kan hoogstens net name aan sonde gee, maar dit kan nié
sonde keer nie. Die hele Bybelse geskiedenis vertel dit.
Die wet kan mense ook skuldig bewys wat die wet oortree, maar
dit kan hulle nie help om minder sonde te doen nie. Die wet sit net
etikette en name aan al die verkeerde dade wat téén God se wil is.
Die wet opsigself het nie die nodige krag om ons te help om sonde
te oorwin en te stop in sy voetspore nie.

Die wet kan mense nooit vrymaak nie! So beredeneer Paulus dit
in Romeine 7. Want vir elke wet wat jy probeer onderhou, oortree
jy weer ‘n klomp ander. Jy bly ‘n slaaf van ongehoorsaamheid ten
opsigte van die wet. Jy struikel elke dag en soms voel jy dat jy
heeldag struikel. Totdat..., totdat Christus jou kom vrymaak!
Hy is die enigste een wat jou laat doodgaan van die mag van die
wet en jou laat opstaan in ‘n nuwe lewe!

Christus alleen het die mag om mense vry te maak! Hy kan die
interne beheer-meganismes binne in jou plaas, want Hy het die
sonde oorwin om jou vry te maak om waarlik vry te wees. Dit is
totaal ánders as die wet wat nooit regtig in ons lewe ‘n vastrapplek
kan kry nie, want; Christus werk van binne af deur die Heilige Gees
om ons totaal nuut te maak. Net Jesus Christus deur die Heilige
Gees kan ons help om totaal nuut te leef en te doen wat God vra.

Claude Vosloo stel dit goed: “Wettisisme is die vrees om die Here
onvoorwaardelik te vertrou. Mense wat aan wette en voorskrifte
wil vashou ter wille van vrymaking, het ‘n innerlike fobie.
Ons moet dan gehelp word om in te sien dat die “kortpad van vaste
voorskrifte” wat ons so graag wil volg, eintlik die onmoontlike ompad
van selfverlossing is! Wettisisme is báng mense wat gelei moet word
om in Christus God se Gees alléén te vertrou om op hulle voete te dink.”

Godsdienstige wette doen dit nie en kan dit nie doen nie. Lees weer
bogenoemde Romeine 7:6! Daarom het Jesus aan die kruis kom sterf
om ons sonde op Hom te neem en ons vry te maak deur die Gees!
Waarlik vry!

Ernest