Romeine 17:15 is ‘n teksvers wat byna elke gelowige van bewus is.
Ons wat dikwels so worstel met die sonde, kan regtig identifiseer met
Paulus wat nét so worstel met die sonde: “Ek begryp self nie wat ek
doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat,
juis dit doen ek.” Wanneer ons hierdie frustrasie intens beleef in ons
worsteling met die sonde, roep ons dit selfs saam met Paulus uit.
Juis dan, in die worsteling, besef ons dat God ongelooflik goed is
vir ons. Hy oorlaai ons daarmee. Sy goedheid, liefde, genade.
Hy laat ons saam met Christus aan die kruis sterf én opstaan in ‘n
nuwe lewe! God skryf ons sondes af. Hy noem ons nie meer “sondaars”
en “goddeloses” nie, maar kinders van Hom! Hy kom breek die mag van
die sonde in ons lewe. Genade op genade! Dan stel God ons ook nog in
staat om deur die werk van die Heilige Gees te doen wat Hy vra!
En tóg, ten spyte van dit alles, maak ons partykeer só droog. Ons begryp
dit byna nie, soos Paulus dit in bogenoemde teksvers stel. Ons wil ontplof
van frustrasie en teleurstelling met onsself. Saam met Paulus roep ons uit:
“Die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie...” Om die een of ander rede
trap ons weer in die strik van die sonde. Ons bly maar net ménse.
Daarom struikel ons dikwels oor verkeerde dinge wat op ons pad kom.
Ons begin die dag met die beste voornemens: Om voluit God se wil te lééf.
As ons weer sien, het ons klaar gestruikel, selfs voordat ons dit besef het.
Paulus sê daar is regtig net een oplossing vir die sonde in ons lewe.
Ons moet elke keer daarmee na Christus toe vlug en daar gaan vergifnis vra.
Hy is die enigste wat ons kan help! Romeine 7:24-25: “ Ek, ellendige mens!
Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit
deur Jesus Christus ons Here.”
JI Packer sê ‘n belangrike waarheid: “Wat kan meer gerusstellend wees as
die wéte dat God se liefde vir my regtig realisties is!? In elke opsig het Hy
vooraf totaal kennis gedra van die heel slegste in my, en daarom kan niks
omtrent my Hom nóú so ontnugter dat Hy my sal verwerp nie!”
Hoe bevrydend is dít nie! Ons kan niks vir God wegsteek nie! En omdat
Hy dit reeds wéét, kan ons met groot vrymoedigheid na Hom toe gaan!
Ons weet dat Hy reeds weet. Ons gaan breek nie nuus oor ons sonde by
Hom nie. Dink net hoe sou ons wegkruip, soos ‘n Adam en ‘n Eva in die
tuin. Goddank weet Hy. Hy het ons nie lief omdat ons kosbaar probéér
“voorkom” in sy teenwoordigheid nie. Ons ís eenvoudig net kosbaar
omdát God ons lief het... ten spyte van ons!!
Ernest