Die Heilige Gees gee nuwe lewe!
Titus 3:5 sê:
“Dit het God gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas,
en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.”

Ons kan dikwels so arm leef ten opsigte van die nuwe lewe.
Ons leef nougeset swart-wit.
Dit is asof ons ‘n vol pakkie kleurkryte het,
maar ons gebruik net die swart en wit.
Ons mis die spektrum van kleure wat die Here wil gee in die nuwe lewe.
Daarom kyk ons God se teenwoordigheid so dikwels mis.
Ons verwag Hom net op sekere plekke,
en mis Hom daarom op so baie ander plekke.

Die Heilige Gees wil ons lei om te ontdek dat die lewe nie net swart-wit is nie,
maar die volle spektrum van alle kleure.
Ons moet as gelowiges anders na die lewe kyk,
en as’t ware “God-watching” doen.
Ons moet besef dat God orals in die lewe te sien is.
Ons moet Hom sien in die skepping, wetenskap, kuns, musiek, taal,….oral.
Dan begin ons oral voluit vir die Here leef,
omdat ons weet die Here is oral!

‘n Dogtertjie het gesê sy is besig om God te teken.
Die ouers het gesê niemand weet hoe God lyk nie.
Haar antwoord:
“As ek klaar is, sal almal weet!
Ek het Hom al baie gesien.”
Mag ons só vir God “baie sien”.
Oral.

Leef die nuwe lewe wat jou elke dag laat “sien”!
Werk asof jy nie geld nodig het nie.
Gee liefde asof jy nog nooit seergekry het nie.
Dans asof niemand jou sien nie.
Sing asof niemand jou hoor nie.
Leef asof dit hemel op aarde is!
Leef die nuwe lewe in al sy kleure!
Sien God oral!

Ernest