Romeine 8:1: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat
in Christus Jesus is nie.” Die oordeel is letterlik verby! Hier staan
dit swart op wit in God se Woord. Hy gaan ons nie meer straf vir
ons sonde nie. Ons wat in Jesus Christus glo as enigste Verlosser
en lewende Here, se straf is vereffen. Jesus het reeds in ons plek
die straf vir die sonde aan die kruis gedra. Die rekening is skoon.
Geen skuld meer nie. Jesus het vir al die skuld betaal en al ons
skuld is afgeskryf. Ook vandag, môre en oormôre se skuld!
Terugwerkend en vooruitwerkend, alles.
Jesus se bloed en lewe was die enigste wat so daarvoor kon betaal.
En Hy het! Hy het die saak tussen God en ons vir altyd herstel.
Ons lewe is in Christus by God verseker. Jesus het sondaars lief en
maak ons vry. Hy laat ons as nuwe mense voor God staan. Ons kan
God “in die oog kyk”, regtig met vrymoedigheid voor Hom staan.
Dankbaar, in Christus.
Vers 17 sê nog verder: “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename.
Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus.” Hierdie goeie
nuus is dat ons name in die heel belangrikste testament van alle tye staan!
God self het ons name daar ingeskryf op grond van die soen-verdienste
van Christus. En nog belangriker... dit is nie net iets waarop ons wag nie...
Ons ontvang nou al hierdie erfporsie van God!
Die grootste geskenk wat ons uit hierdie erfporsie ontvang is God se Gees!
Hy kom woon in ons om God se pad saam met ons te kom stap! Ons is nou
reeds in die hande van die Heilige Gees. As ons mooi luister sal ons verseker
onder alle omstandighede die stem van die Heilige Gees hoor wat ons lei.
Hy is oral waar ons leef, want Hy kom woon in ons! Jy hoor self die Gees se
stem wat binne in jou uitroep: “Abba!” Dit beteken Vader!” – vers 15.
Eintlik moet jy moeite doen om sommer nou die hele Romeine 8 te lees.
Dit is die Gees wat jou oor en oor verseker dat jy ‘n kind is van God ons Vader.
Hoor Hom bo al die geraas in jou lewe wat dit wil uitdoof. Jy sal die Gees se
sagte uitroep binne in jou hoor wat jou met ‘n onbreekbare band aan jou
liefdevolle Vader bind.
Jou erfporsie sluit ook die ewige lewe by God in. Hy belowe dat jy vir altyd
deel sal hê aan sy ewige heerlikheid. God het jou so lief dat Hy jou in ewigheid
by Hom wil hê! Lees dit weer... God het jou regtig só lief!
Niks, nie eers die dood, kan jou uit sy hand ruk nie. Die Gees wat hier en nou
met jou saamstap, en jy saam met Hom, dit is jou ewige erfporsie, hier, en tot
in ewigheid by God!
Ernest