Die lewe is nie altyd maklik nie. Ons almal beleef dit.
Siekte, konflik, spanning, dood, hartseer, en nog meer,
is deel van die lewe. Ons weet dikwels nie mooi hoe om oor dinge
en mense te dink of te doen nie. Dan bid ons ook oor dinge en vir mense,
en weet selfs nie eers mooi hoe om daaroor of daarvoor te bid nie!
Lees net wat sê Romeine 8:26: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by...”
Romeine 8 sê as ons mooi luister sal ons selfs die skepping hoor sug. Want
alles loop deur onder die vernietiging... mens, dier, plante, waterbronne,
die osoonlaag... Daarom vertel Paulus van die skepping wat ook sug in v 22,
en alles wat uitsien na die dag wanneer God alles weer sal kom nuut maak.
Ook ons as gelowiges sug - vers 23. Die lewenspad is soms te veel vir ons.
Ons wil partykeer net nie verder nie. Ons voel ons kan nie verder nie en gee
sommer moed op. Daar is hierdie wonderlike goeie nuus vir ons in tye soos
hierdie: In sulke tye sug die Gees ook om ons ontwil. Die Heilige Gees sug
egter by die regte plek vir ons. Hy tel al ons seer en swaar op en neem dit
na die troon van God. Dan gaan sug die Heilige gees daar by God, vir ons
en namens ons. Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie. Hy neem
dan ons sugte en klagtes en vertaal dit in hemelse taal by God...
totdat God uitkoms gee! Al is die uitkoms anders as wat ons wou hê...
Dit is wonderlik om te weet dat die Gees om my ontwil by God sug!
Hy vertaal en dra my gebede na God. En dit wat ek nie eers self weet hoe
om te bid nie, daardie sugte dra die Gees vir my na God toe. Die Heilige
Gees verstaan my biddeloosheid en sugte die heel beste. Die Heilige Gees
ken my beter as wat ek myself ooit kan ken. Hy weet alles van my en
verstaan alles van my. Daarom weet die Gees presies wat om in my en my
omstandighede vir my by God te doen, wanneer Hy namens my by God
sug met my versugtinge. Die Gees kan met God bly praat oor my totdat
God uitkoms gee.
Ons verstaan eintlik min van hierdie Goddelike ingryping en wonderwerk.
Maar wat ‘n wonder van God vir my persoonlik as kind van God!
Hou moed as jy vandag ‘n berg uitklim in jou lewe. Weet dan:
Die Gees klim saam. In die proses tree Hy met jou versugtinge in by God.
Hy ken jou deur en deur en doen dit, vir jou!... tot eer van God!
Ernest