Romeine 8:33: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?
God self spreek hulle vry”.
Ons kan eenvoudig net lofliedere sing, as ons maar net iets
verstaan van God se groot goedheid! Ons staan verstom as ons
sien wat God alles doen om ons te red, en om ons gered te hou!
Romeine 8:39 sluit dan hoofstuk 8 af op ‘n hoogtepunt! Niks of
niemand kan ons van die liefde van God skei nie! God het ons
gekies en ons sy kinders gemaak, en niks kan ons van Hom skei nie.
Niks kan ons van sy onuitblusbare liefde skei nie. God het dit alles
begin en dit alles volbring. Niks kan dit verander nie! Die Bose het
geen kans om ons meer aan te kla nie, en buitendien,
die Here Jesus self tree vir ons in by God!

Geen probleem of mag kan jou skei van God nie. God is lief vir jou.
Hy sal alles denkbaar doen, en selfs dóén bo ons begrip en verstand,
of wat ons bid, om ons as sy kinders te verseker. Hy voorsien ook in
die fynste besonderhede vir ons. Meer as wat ons bid of dink.
Hy luister na die Gees se sugte vir ons en oor ons. Hy hoor as Jesus
vir ons intree. Ons is in die veiligste hande en in die grootste hart in
die heelal. Ons behoort aan die Skepper van die heelal. Daarom moet
ons ophou om so kleingelowig rond te val.
Ons moet leef as die oorwinnaars wie ons in Christus is!

Ons moet in oorwinning met oorgawe lewe. Augustinus van Hippo
het gebid: “Gee my wat U van my vra, en vra dan van my net wat U wil.”
God het absoluut alles klaar gegee! Daar is niks wat jy kan bedink wat
God nie gegee het nie. Augustinus het ook gesê: “God wil die hele tyd
die werklik goeie dinge vir ons gee, maar ons hande is te vol van ander
dinge om dit te ontvang.” Ontdek vandag weer nuut dat jy as kind van
God reeds alles van God ontvang het.
God het nie net onuitputlike gawes om te gee nie, maar is so goed dat
Hy ook reeds onuitputlik gegee het en steeds nooit moeg word om te
bly gee nie! Leef daaruit!... die oorwinnings-lewe!

Ernest