Hoe word ‘n mens gered? Hoe word ‘n mens ‘n kind van God?
Hoe kan al die sonde wat tussen jou en God staan uit die weg
geruim word?
Dit is so eenvoudig soos: Jy gaan vra om gered te word! Regtig so
eenvoudig soos dit.
Jy gaan staan voor God met die intense besef van jou stukkende lewe
en jou totale verlorenheid. Jy bely dat jy self daarvoor verantwoordelik is.
Jý is die een wat drooggemaak het en bly droogmaak. Jy wou dikwels en
doelbewus nie luister nie. Jy het in opstand gekom terwyl jy geweet het
dit is God wat met jou praat en na jou roep. Jy was sienende blind en
hardkoppig, toe God jou die pad van die ware lewe wou wys.
Nou staan jy uiteindelik soos ‘n bedelaar voor Hom, met niks
anders om aan te bied nie, as net jou sonde. Jy is bankrot.
Wanneer jy so voor God kom in ware berou in ‘n opregte hart,
vra Hy dat jy regtig sal glo dat net Hy jou kan red. Hy vra van jou om
jou bankrot lewe oor te gee aan Hom, sodat Hy in Christus en deur die
Gees beheer neem van jou lewe. God wil hê jy moet Jesus Christus as
die Here van jou lewe ken en dien. Daarom vra Hy van jou hierdie
belydenis in Romeine 10:9: “As jy met jou mond bely dat Jesus die
Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het,
sal jy gered word.” Jy leef hierdie belydenis uit met woord en daad:
Jesus is die Here van my lewe!
Hierdie woorde red. Dit maak nuut. God self sê jy moet dit glo en bely.
God waarborg dit. Want saam met hierdie belydenis gaan ‘n lewe wat
Hom ken, verheerlik en dien. Dan is jy seker daarvan en jy leef in die
sekerheid wat God gee: Vrygespreekte kind van God! Nuwe mens!
William Barclay stel dit so: “Die Christelike geloof het niks te doen met
wat ons vir God kan doen nie; en alles met wat Hy vir ons gedoen hét.
Ons kan op geen manier God se guns wen of sy vryspraak verdien nie,
en ons hóéf ook nie! Van begin tot einde is dit ‘n saak van gratis genade.
Al wat ons wel kan doen, is om ons vrywees met verwondering
te aanvaar en met dankbaarheid uit te leef en te vier.”
Ernest