Wat doen ons met die boodskap van redding,
waardeur ook óns tot redding gekom het?!
Die Goeie Nuus kom net op een manier by mense uit:
Dit word deur ander mense gedra na dié mense wat
smag om redding! God gebruik geredde mense om vir
ander mense van Hom te gaan vertel. Goeie nuus het
harte nodig wat omgee, en stemme nodig om dit te dra,
en aan te kondig by mense wat die Goeie Nuus móét hóór!

Romeine 10:14: “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom
gehoor het nie?” Doodgewone gelowiges is nodig om oor
Jesus met ander mense te praat. Om in jou eie woorde te vertel
Wie Hy in jou lewe is en wat Hy in jou lewe doen. Gelowiges is
regtig die gestuurdes van die Here wat dit moet gaan doen.

Is jy een van die gestuurdes van die Here wat dit regtig met
oorgawe doen? Jy hoef nie ‘n Evangeliesasie-kursus te gaan doen
om dit te kan doen nie. Dit is wel baie voordelig en wonderlik as
jy dit sou kon doen. Die Here werk egter so uniek in elkeen se lewe,
dat ook jy jou eie getuienis het, wat so sterk deur die Heilige Gees
gedra word, en waardeur die Heilige Gees saam met jou getuig van
God in jou lewe!

Verskonings soos “Ek kan nie goed praat nie”, of “Ek ken nie die
Bybel so goed nie”, of “Ek is regtig net te besig” of watter verskoning
jy ookal het, is eenvoudig net nie goed genoeg nie. Geen verskoning
is goed genoeg om nié te getuig nie. Praat net eenvoudig so eenvoudig
soos moontlik oor die Here in jóú lewe, en hoe Hý in jou lewe lééf en
doen, tot God se eer!

Jesus Christus het nie die verkondiging van sy Goeie Nuus aan ‘n
reklame-maatskappy toevertrou nie. Hy het net eenvoudig sy dissipels
wat saam met Hom geleef het, uitgestuur. Hy het hulle nie opdrag
gegee om advertensieborde op te sit en pamflette uit te deel nie.
Hy het gesê hulle moet net in hulle gewone lewe vertel en wys in
Wie hulle glo. Gaan doen dit! Jy is ‘n gestuurde van die Here!

Ernest