Party mense belowe om God te dien of met meer
toewyding te dien as God iets vir hulle sal doen.
“Help my deur die eksamen..., of maak my kind
gesond... of help my om werk te kry... dan sal ek...”
Gewoonlik is die “dan sal ek...” ‘n belofte om met
meer toewyding die Here te dien. Ons maak soms
nie eers doelbewus sulke beloftes aan die Here nie,
maar ons dink ernstig in daardie rigting. Ander kere
doen ons “iets” vir die Here en verwag dan guns van Hom.

Die belangrike is Romeine 11:35: “Wie bewys Hom ‘n guns,
sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Dit is vir ons
onmoontlik om ‘n guns aan God te bewys, of om Hom raad
te gee, soos die vorige vers 34 sê. Ons het geen gronde om
enige iets met God te beding nie. Ons het niks om God aan
te bied waaroor Hy verleë is nie. Daar is niks wat ons kan
doen sodat God iets aan ons “verskuldig” is nie. God het
regtig niks van ons nodig nie. Ons kan nooit sy arm draai nie.
Hy is so groot en heilig, en ons so klein en afhanklik van God,
dat ons nie eers in sulke terme kan begin dink nie.

Alles wat God vir ons doen is suiwer genade. Alles wat God
vir ons doen is eenvoudig omdat Hy ons eerste liefgehad het
en steeds so baie liefhet. Vir geen ander rede doen Hy enige
iets vir ons nie. Alles gaan in die eerste en laaste plek om God
se eer! Ons is te arm, te swak, te nietig, om enigsins met Hom
te kan onderhandel.
Die wonderlikste hiervan is dat ons kinderlik voor Hom kan
staan omdat ons sy kinders is en Hy ons Vader. Sy genade-hand
bly wyd oop vir ons, want Hy het ons oneindig lief.

God se genade beteken nie dat Hy regstaan om altyd ons
moeilike situasies te verander nie. Hy het sy Goddelike doel
wat Hy met ons wil bereik en dit loop dikwels deur lyding heen.
Dit is ook die boodskap van die kruis waar Christus vir ons gely het.
God sien egter altyd ons swaarkry raak en is saam met ons daarin.
Hy buig af en hou ons vas in ons omstandighede. Die waarheid oor
ons is dat ons liefde die nodigste het wanneer ons dit die minste
verdien. Net God kan in die ongelooflike diep behoefte voorsien.
Net God kan so diep liefhê dat dit ons uit die diepste ellende red.

Ernest