Romeine 12:10: “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar...”
Watter verskil maak jy regtig in ander mense se lewens? ‘n Beker
koue water op ‘n vuurwarm dag. ‘n Ondersteuning vir iemand
wat swaar loop. Ons kan aanhou voorbeelde noem van groot
en klein dade van liefde, wat uiteindelik ewe veel werd is as dit
in opregtheid gedoen word. Daarom sê 1 Johannes 3:18:
“Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees
nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”

Net soos Johannes, leer ook Paulus ons dat liefde dade is.
Natuurlik is dit gevoelens ook. Ons voel verseker ook liefde vir
ander in ons hart. Maar liefde is veel meer as emosie. Liefde is dade.
Liefde word gedoen. Liefde word in aksie gesien. Die Here se soort
liefde is dade wat ook oorloop in gevoelens. Jy sien Christus se liefde
in aksie waar gelowiges hul moue oprol en ander mense in nood
bedien met liefdevolle dade. Jy hoor liefde wanneer Christene met
sagte woorde antwoord wanneer ander hulle vloek of slegsê. Dit is
baie sterker as om terug te skree of te vloek. Christus se liefde neem
nie wraak as ander ons te na kom nie.

Christus se liefde het ‘n duur prys. Dit is nie maklik om Christus se
soort liefde te beoefen nie. Dit laat jou opstaan uit jou leunstoel geloof
om te gaan dien waar ander swaarkry. Jesus se liefde laat jou ‘n tweede
kilometer saamstap en help. Dit laat jou die ander wang draai. Dit laat
jou genesende woorde praat waar haat hoog vlam. Moeder Teresa het
gesê die grootste moordenaar in die wêreld is ‘n gebrek aan liefde wat
doen, liefde wat nie betrokke is met dade nie.
Liefde doen vir en aan ander ter wille van die Here en die eer van God.

Romain Rolland stel dit so: “In die liefde kom ons die naaste aan goddelik
wat die mens kan kom – as liefde die daad is om selfloos te gee. Maar dit
is die grootste dwaasheid en bring die diepste ontnugtering as die liefde
niks meer as eie bevrediging soek nie.” Liefde word met dade bewys,
en dan in opregtheid. Gaan doen liefde!

Ernest