Romeine 14:17: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van
eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde,
wat die Heilige Gees ons gee.” Alles van ‘n kind van die Here te wees,
om Hom lief te hê en te dien, gaan oor gehoorsaamheid, vrede en vreugde.
Dit gaan daaroor om in vrede met God te leef deur gehoorsaamheid aan Hom.
Sonder gehoorsaamheid is dit onmoontlik om in ‘n verhouding met God te leef.
Ons weet dit tog. Wanneer ons gehoorsaam is aan God, vloei vrede en vreugde
daaruit. Vreugde is inderdaad ‘n wesentlike deel van geloof.

Kyk wat sê Paulus in Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur
julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker
kan word deur die krag van die Heilige Gees.” Vreugde is ‘n integrale deel van
ons geloof. Dit is nie ‘n opsie nie. Gelowiges sál eenvoudig vreugde hê in
verlossing en ware lewe! Ons dien immers die God van blydskap.

Vreugde is nie net emosie nie maar ‘n blywende toestand van lewe en hoop!
Daarom loop vreugde in hierdie bogenoemde vers hand aan hand met vrede
en hoop. En let op, dit word in verband gebring met die Heilige Gees se werk.
God het met jou vrede gesluit nadat Hy met jou sondes afgereken het,
in Christus aan die kruis. Nou kom daar ‘n nuwe blydskap oor jou wat jy nooit
geken het nie! Wanneer jy leer om elke dag alles van God te verwag, deel Hy
sy vreugde en vrede aan jou uit.

Ons kan nooit God se vreugde naboots nie. Die Heilige Gees moet in jou wees
vir God se vreugde, en Hy gee ware vreugde, ewige vreugde. Dit is ‘n geskenk
van Bo, elke dag, uit God se hand. Neem dit elke dag in ontvangs by God,
en leef dit uit!

Ernest.