Paulus het bykans sy lewe lank gestry in die geloofstryd.
Veral vanaf sy bekering op die pad na Damaskus tot aan die einde.
Hy het gesterf vir sy geloof. Nie almal van ons stry op dieselfde
manier nie, maar geloof is ook vir elkeen van ons ‘n stryd.
Soms ‘n stryd met twyfel... en dan weer groei in geloof...

Paulus vra ook in sy Brief aan die Romeine vir die gelowiges om
saam met hom te stry in gebed: “Ek versoek julle dan dringend,
broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van
die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur
vir my te bid...” – Romeine 15:30.
Geloof is stryd. En stryd vra gebed. Geloof is nie om maat net op
plat water te seil nie. Geloof is dikwels in stormsee... in stryd.
Stryd vra altyd gebed. Sonder gebed is daar weinig geestelike
stukrag in ons seile. Paulus weet dit. Daarom dat hy so dikwels
vir gelowiges gevra het om vir hom te bid.
Gebed is die sleutel tot die Here se krag en genade.

Sonder gebed loop ons op minder as half-spoed.
Eintlik luier ons dan net, dikwels op een plek en ander kere teen
‘n slakkepas. Ons beweeg van die een vaal dag na die ander. Maar,
mét en ín gebed beleef ons die stukrag van die Heilige Gees.
Ons kry Goddelike visie. Gebed is die manier waardeur ons met
God in gesprek bly en Hom hóór, en begrip kry. Deur en in gebed
behaal ons groot oorwinnings in die geloof. God gee dit.

Die Woord sê ons moet gereeld bid, ons moet sonder ophou bid.
Gebed is juis deel van die stryd. Wanneer die bedreigings teen God
se kinders fel is, en ons ernstige probleme in die gesig staar, moet
ons met die wapenrusting van God veg – Efesiërs 6:10-17.
Hoe doen ons dit met hierdie wapenrusting? Vers 18 gee dan die
antwoord: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid
deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig...”

Geloof is stryd. Stryd vra gebed! Stry vandag en elke dag in gebed!
Efesiërs 6:10: “... Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”

Ernest