God se seën is werklik gratis.
Ons kan dit nie verdien of verwerf nie. Baie mense aanvaar moeilik
iets wat gratis is. Hulle aanvaar moeilik komplimente of geskenke.
Ons wil nie sommer iets van ander verniet hê nie. Ons sal dikwels,
wanneer iemand iets uit die bloute vir ons gee, vra: “Regtig, kan ek
jou nie iets gee of betaal daarvoor nie? Bedoel jy regtig dit is verniet,
gratis!?” Ons wil gewoonlik iets in ruil teruggee. Selfs al dink ons
daaraan om dit later te doen. Ons dink daar is in die lewe waarin
ons leef nie eintlik iets soos ‘n gratis geskenk of vakansie nie.
Iewers is daar ‘n vangplek... wees op jou hoede...

Miskien is dit hoekom ons so moeilik glo genade en seën is
eenvoudig onverdiende guns van God! Dit is eenvoudig verniet!
God gee dit eenvoudig in sy liefde vir ons! Dit kom onverdiend,
sonder enige voorwaardes. Ons moet dit net ontvang,
en met dankbaarheid lééf.

God se seën is gratis vir alle gelowiges! Daarom dat Paulus
ongekwalifiseerd kan sê dat die God van vrede by ons almal sal
wees, in Romeine 15:33: “God wat vrede gee, sal by julle almal
wees! Amen.” Reeds in Romeine 1:7 lees ons dit ook:
“... Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here
Jesus Christus!”
Judas 2 praat van die seën van God as geskenk:
“Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle
geskenk word.”

Die Here spreek eenvoudig sy seën oor ons uit sonder dat ons
dit verdien! In 2 Korintiërs 13:13: “Die genade van die Here Jesus
Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees sal by julle almal wees”. By ons álmal wat kinders van God is!
Treffend sê God reeds in die Ou Testament aan sy volk, sy kinders:
“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle
redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede
verhoor en aan julle vrede gee.” – Numeri 6:24-26.

Ontvang God se seën en genade as gratis geskenk uit sy hand!
Gaan lééf dankbaar daaruit tot sy eer! Frederick F Faber het gesê:
“God se grootste glorie is sy genade, sy seën.”
Jonathan Swift het oor seën van God gesê:
“Mag jy geseënd wees – Mag jy jou lewe lank léwe!”
Gaan lééf uit die seën van die Here!
God is goed - “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” –
Psalm 107:1.

Ernest