Ester is ‘n fassinerende boek in die Bybel. Dit vertel die verhaal van
Ester en haar oom Mordegai, wat die Jode in Persië se lewe gered
het in die tyd van koning Ahasveros. Ester en Mordegai was twee
mense wat op die regte tyd op die regte plek was; op God se tyd,
op die plek waar God hulle wou gebruik. Ester 1:1 sê op die oog af
so half terloops: “Dit was in die tyd van Ahasveros”.
Ester en Mordegai is in hierdie tyd, op aangrypende manier deur God,
as instrumente in sý hand, gebruik om die lewe van sy volk te red!
Prediker 3 sê daar is ‘n tyd vir alles, ook die tyd waarop God jóú
spesifiek wil gebruik. Ongeag omstandighede.
Die treffende is dat hierdie Ester-boek stil is oor God, op die oog af.
Die Naam van God word nie ‘n enkele keer in die Hebreeuse teks
gebruik nie. Jy sal dalk vra: “Maar wat van Ester 9:31? Daar staan
God se Naam.” Dit is eintlik ‘n invoeging deur Bybelvertalers, maar
dit kom nie in die grondteks in die Hebreeus voor nie.
Die vraag is: Nou hoekom is die boek Ester dan in die Bybel as dit
op die oog af swyg oor God? Die rede is: Tussen die lyne deur deel
dit ‘n wonderlike waarheid oor God, en hoe Hy werk, met ons.
God is met ons ook in óns lewens besig, sonder dat ons dit altyd
besef. Dinge gebeur... en ons wonder dikwels hoekom dit gebeur.
Intussen is God in dit en deur dit besig met ons!
God gebruik menslike intriges en verskillende gebeure in ons
lewe om sy Goddelike doel met ons en ander mense te bereik.
God laat nie toe dat iets of iemand in sy pad staan om sy doel te
bereik nie. Dit maak nie saak wie of wat dit is nie. Nie eers die
magtigste mense op aarde kan God stuit in sy doel nie. Die Ester
boek bevestig dit.
Ons moet dit ook weer besef ten opsigte van ons eie lewe!
Net soos God op die oog af afwesig lyk in die boek Ester, net so
beleef mense God soms as afwesig in hulle lewe. Hartseer dinge
en onverstaanbare dinge gebeur met ons, en ons wonder:
Waar is God? Wees verseker: God is nooit afwesig waar sy kinders
is nie. Nooit nie. Maak nie saak hoe ons dit beleef nie... die feit is,
God is besig met ons ter wille van ons én ter wille van sy doel met
ons, tot sy eer en verheerliking! Alles gaan oor God!
Weet dit as jý dit beleef dat God nie daar is nie omdat jý nie
“sy Naam sien, lees of hoor nie”, soos in die Ester-boek:
Vir ons ewige God is niks in jou lewe te groot om buite sy almag
te val nie, of te klein om nie deur sy liefdevolle sorg omvou te word nie.
Wil ons nie hieroor net eenvoudig amen uitroep nie!
Ernest