God skryf uiteindelik die geskiedenis.
Daarom praat mense dikwels van “history” as “His-story”.
Dit is belangrik dat elkeen van ons as gelowiges, beskikbaar is om
God te verteenwoordig in hierdie wêreld. Ons ís immers God se
verteenwoordigers! Hy skryf ook sy geskiedenis deur jou!

Die boek Ester lees soos ‘n spannende novelle. Lees dit! Kortliks:
Dit vertel hoe Ester se skoonheid gemaak het dat Ahasveros haar
tot koningin gemaak het. Nie haar getuienisse oor God nie, maar
haar skoonheid het haar ‘n posisie gegee. Dit is deur God gebruik
om sy doel te bereik. God het immers ook haar skoonheid aan haar
gegee! Sy is in ‘n sleutelposisie in die Persiese ryk geplaas.
Haar oom, Mordegai, red die koning se lewe wanneer hy ‘n komplot
teen die koning ontmasker. Haman vervies hom hieroor en besluit
om die Jode uit te roei. Dadelik het Mordegai by Ester gaan hulp vra.
Sy nooi Ahasveros en Haman vir etes. Haman se planne draai sleg
teen hom. Ester ontmasker Haman se komplot om die Jode dood
te maak, aan koning Ahasveros! Haman sterf aan die galg wat hy,
ironies genoeg, vir Mordegai gebou het! Ester en Mordegai stel ‘n
nuwe dekreet op wat die Jode help om hulleself te verdedig.
Hulle stel die Purimfees in. Mordegai word bevorder tot tweede
in bevel. Wat ‘n verhaal!

Geen wonder daar is al flieks hieroor gemaak nie! Dit is die
verhaal van God se oorwinning!... ter wille van sy volk, sy kinders.
Sorg dat jy deel van God se verhaal is, in jou konteks. God wil sy
stukkie geskiedenis daar skryf deur jou wat Hom daar op grondvlak
verteenwoordig, oral waar jy leef! In jou gesin, familie, vriendekring,
kollega-kring...

Jy mag dink jou stukkie geskiedenis is niksseggend in die groter
prentjie. Moenie dit dink nie. God doen groot deur jou wat klein
dink en doen. Eendag sal elkeen van ons wat kinders van die Here is
die vrug sien van ‘n woord hier, en ‘n daad daar. Moenie God se werk,
deur jou, onderskat nie! Sorg net dat jy elke dag aktief deel van God
se verhaal is, deur woorde, dade, en gebede.

Ernest