Ons ontwikkel dikwels ‘n bepaalde siening van hóé God werk,
of hoe ons dink Hy behóórt te werk te gaan. Ons doen dit met
inligting uit die Bybel, en dit is reg so. Ons lees egter dikwels nie die fyn
detail raak van hoe al God se werk besónderse werk is nie.

Die Boek Ester is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Ons word in die eerste plek
verras om te ontdek dat God se Naam nie eers een keer in die boek genoem
word nie! Wanneer ons oor Ester lees, ontdek ons sy was ‘n weeskind.
Ester 2:7 sê: “Mordegai het as voog opgetree van Hadassa, dit is Ester,
die dogter van sy oom, want sy was ‘n weeskind.”

Ester was ‘n baie mooi vrou. Die boek vertel hoe haar skoonheid gemaak
het dat koning Ahasveros haar tot sy koningin gekies het. ‘n Weeskind
word koningin. Nie haar getuienisse oor God nie, maar haar voorkoms,
is deur God gebruik om haar in ‘n sleutel posisie te plaas vir wat Hy beplan.
Ons lees in Ester 2:17: “Die koning het meer van Ester gehou as van enigeen
van die ander vrouens...”

Ons sien gewoonlik God se werk in die groot dinge raak. Die feit is,
hoe groot of klein dit ookal vir ons mag lyk, uit ons oogpunt... ál God se werk,
is groot! Mense oordeel met soveel beperkte kennis of insig. Ons sal gaande
wees oor ‘n bekende predikant of pastoor wat ‘n reeks oor iets hou, en ons
verwag geestelike vuurwerke. Wanneer mense vertel van hulle werk in die
sendingveld en hoeveel mense tot bekering kom, is ons opgewonde oor wat
die Here besig is om dáár te doen, en kyk mis wat Hy ook by óns doen!
Kan ons sê God se werk is hier groot, en daar klein?
God se werk is God se werk, en dit is oral ewe groot!

Dit is reg so dat ons opgewonde raak oor wat ons hoor aan’t gebeur is op
ander plekke. Maar ons kyk dikwels by al die verrassende plekke verby,
waar God besig is om gróót dinge te doen. Ons sal dit al hoe meer elke dag
raaksien, as ons wakker is daarvoor.
As jy in die oggend kan opstaan en suurstof in jou longe intrek op ‘n nuwe
dag, is dit weereens God se wonderwerk!

Ons vergeet om God se hand raak te sien in die klein dingetjies, soos om ‘n
beker water vir iemand te gee wat dors is. Of ‘n warm kledingstuk in die winter.
Jesus het gesê dat so iemand se loon groot sal wees in die hemel.
Jesus het gesê dat mense wat dien en gee uit gebrek, soos die vrou met haar
paar pennies by die tempel, die eintlike geestelike reuse is in sy Vader se ryk!

God gebruik mense op verrassende wyse. Maar een van die mees verrassende
ooit is sekerlik ook hoe Hy Ester gebruik het. Sy het nooit enige “groot preek”
in sy Naam gelewer nie! Terloops, wat is nou ‘n groot preek? Enige woord,
waardeur God praat, is gróót! Maar God het nie Ester se mond nodig gehad nie.
Nee, hy het haar as ‘n skoonheid geskep en haar skoonheid gevra in sy diens.
Verrassend!... so werk God. Ester se voorkoms was die sleutel, die sleutel tot
die ontsluiting van sy hemelse planne met sy volk. En hoe het God dit nie
gebruik om haar toegang te gee tot die vernaamste mense in die Persiese
ryk nie! Dáárdeur sou God sy volk red!

Wees op die uitkyk vir God se verrassende skuiwe in jou lewe! Jý is deel van
God se verhaal. Maak nie saak wat jy ookal oor jouself dink nie. Te lelik, te oud,
te swak, te wat ookal... God doen groot deur jou, as jy maar net daar ís, en lééf,
vir Hom!

Moenie wag vir die hemel nie! God se wil met ons is waar ons nóú saam met
God loop. Wees bewus van Jesus by jou! Dit is God se wil. Dat ons vandag op
Hom en sý krag sal vertrou! Sien Hom nóú loop op die golwe van jou lewe...
al is die vaste-land vir jou nêrens in sig nie, en al voel jy dat jy geen sukses het
met waarmee jy besig is nie! God se wil vir ons is die sekerheid dat alles reg is
omdat Hy by ons is! Wees op die uitkyk vir God se verrassende werk in jou lewe!
Hy doen groot deur jou, met alles wat jy is, en lééf vir Hom!

Ernest