Tydsberekening, sonder dat ons dit dikwels besef, is baie
belangrik in die lewe van ‘n kind van die Here. Dit beteken
nie dat jy noodwendig altyd iets konstruktief moet doen nie,
maar dat jy moet besef dat, waar jy ookal is, jy daar ‘n
verteenwoordiger van die Here is. So het Mordegai maar
net in die poort van die paleis gesit. Dalk het hy daar met
vriende gekuier, of dalk was hy net nuuskierig oor wat in
die poorte van die paleis gebeur, of dalk het hy net daar
“rondgehang”. Ester 2:21 sê egter dat iets baie belangrik
Gebeur, terwyl hy daar rondsit: “... terwyl Mordegai in die
poort van die paleis gesit het, het Bigtan en Teres ...
saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor.”

Waar jy op ‘n gegewe tydstip is, is dikwels belangriker as
wat jy doen en sê. Mordegai, Ester se oom, wat hier in die
paleis-poort rondsit, is op hierdie dag op hierdie plek presies
waar God hom wil gebruik, sonder dat hy dit eers weet of dink.
Hy het maar net in die stadspoort van die paleis gesit, op die
oog af niks meer nie... En toe het hy daar bevriend geraak met
die wagte wat die paleis oppas. Dit is toe dat hy hoor van ‘n
komplot om die koning te vermoor!
Praat van God se tydsberekening, sonder dat Mordegai dit weet.
Daardie sit-sit kuier in die poort sou deur God gebruik word as ‘n
moment in die redding van sy volk onder die Persiese koning.

Sonder dat die soldate dit geweet het, het Mordegai dit vir
koningin Ester gaan vertel van die komplot. Op haar beurt het sy
met die koning gaan praat en hy het die twee manne laat ophang.
Ons sien God se hand duidelik in hierdie gebeure raak.
Hy het gesorg dat Mordegai, sy kind, op die regte plek is.
Mordegai was as’t ware soos ‘n geheime agent van God daar
“geplant” om, wat God weet, by Ester uit te kry! Op die regte
oomblik gebruik God Mordegai se teenwoordigheid en sy ore in
die poort om te hoor wat hy moes hoor.
Hierdeur sou God uiteindelik, na ‘n hele kettingreaksie, sy volk red!
Mordegai besef ook dat hý iets moet doen, want dit gaan oor God
se volk! God se kinders!

Dalk voel jy dikwels half nutteloos vir die Here as jy jou vergelyk
met wat “ander vir die Here doen”. Dalk voel jy Hy gebruik jou nie
eintlik nie. Besef dit, dat jy selfs vandag ‘n verteenwoordiger is van
God, in wat jy ookal vandag gaan doen. Hoe klein dit vir jou mag lyk!
Wees net doelbewus daar waar jy is, vir die Here!
Dit is die regte tyd en regte plek waar jý sy kind moet wees!
God gebruik jou juis daar, al dink of voel jy nie so nie.

Ernest