Ester 4:14: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd
soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ons het nou al in die
vorige gedeeltes uit die Boek Ester gesien hoe God aktief teenwoordig
is en werk, sonder dat sy Naam eers genoem word. Die Jode was in ‘n
baie groot oorlewings-krisis, letterlik! Haman, een van die magtigste
manne in die land, het klaar besluit dat die Jode uitgeroei moet word.
Hy het met ‘n baie slinkse set dit reggekry dat koning Ahasveros ‘n
proklamasie uitvaardig dat alle Jode doodgemaak moet word!

Hierdie gebeure het Mordegai in diep rou gedompel. Hy het by Ester
gaan hulp soek. Ester wie? Ester die koningin! Ester was die weeskind,
die dogter van sy oom, en Mordegai was haar voog! Hoe verrassend
werk die Here nie. Sy is nou die koningin.

Ester was aanvanklik huiwerig omdat sy, volgens gebruik, nie amptelik
alleen voor die koning kon verskyn nie. Mordegai het egter God se plan
agter haar lewe raakgesien. Hy het eerstehands beleef wat met haar
gebeur het. Daarom sy woorde in bogenoemde teks: “Wie weet, miskien
is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.”

Ester was toe oortuig dat sy moes gaan en haar belangrikste wapen was
haar skoonheid en haar sjarme, om die koning se hart sag te maak. Die
koning het baie vriendelik reageer. Sy doen toe ‘n strategiese skuif en
nooi die koning en Haman vir ete. God gebruik die regte mense op die
regte plek. Maar God sorg ook dat die regte mense in die regte tyd leef.

Dit geld elkeen van ons. Jy is nie te vroeg of te laat gebore nie. Mense sê
soms hulle wens hulle kon in ‘n ander tyd geleef het. God se tyd vir jou is
nou. God maak nie ‘n fout nie. God het jou vir hierdie tyd bestem waarin
jy nou leef. Streef sy doel vir jou na, nou, en leef dit uit. God wil jou nou,
in hierdie tyd gebruik. Wees beskikbaar vir Hom. Deurgaans.
God se tyd en plek en persoon is reg. Dit is ook nou so, vir jou.

Ernest