Haman wou vir Mordegai doodmaak. Mordegai was koningin
Ester se oom. Hy was ook haar voog, want sy was ‘n weeskind.
Haman het die galg al klaar gebou en was op die punt om Mordegai
te laat vang toe die koning hom roep. Die koning het onthou dat
Mordegai sy lewe vroeër gered het. Hy het Mordegai nog nie
daarvoor beloon nie. Die koning vra toe in Ester 6:6 raad by Haman
oor hoé om iemand te beloon: “Wat moet gedoen word met iemand
aan wie die koning baie graag eer wil bewys?” Haman het natuurlik
gedink die koning wou hóm wat Haman is, prys en beloon.

Haman stel toe ‘n openbare verering deur die strate voor. Toe Haman
hoor dat dit die hele tyd vir Mordegai bedoel was, was hy geskok.
Meer nog, kort hierna het Ester Haman se planne om Mordegai dood
te maak aan die koning bekendgemaak. Haman word toe opgehang
aan dieselfde galg wat hy in die eerste plek vir Mordegai bedoel het.
Hoe waar is die spreekwoord nie: “Wie ‘n graf grawe vir iemand anders,
val self daarin.”

God se tydsberekening is verstommend. God se ingryping is volmaak.
God is in elk geval nooit “te vroeg” of “te laat” nie. Net mooi op die tyd
wat Haman Mordegai wil doodmaak, onthou die koning hy skuld aan
Mordegai ‘n groot dankie! Op die kritieke oomblik wat Mordegai se lewe
aan ‘n draadjie hang, het God dit omgeswaai en Mordegai met eer oorlaai.
God het daardie situasie gebruik om sy volk te red van uitwissing!

God is nooit laat met sy goedheid en guns in jou lewe nie.
Ons het dikwels ander planne en begeertes as wat God vir ons bedoel.
God se tydsberekening is egter perfek. Vir Gód se doel met ons.
Glo dit en bly volhard op God se pad vir jou lewe.
Wyse gelowiges pas aan by God se plan met hulle lewe – net soos
water die vorm aanneem van die houer waarin dit gegooi word.

Ernest