God kan die donkerste omstandighede omkeer na helder lig.
In ‘n oogwink kan God se reddende genade enige donker situasie
omkeer na lig! Hy kan die swartste nag verander in helder dag.
God spesialiseer in wonderwerke wat ons verstand te bowe gaan.
In die boek Ester sien ons hoe God sy kinders, sy volk, red uit die
haglikste omstandighede, op die mees onverwagte wyse.
Die Jode staan op die punt van uitwissing wanneer Haman planne
maak om hulle totaal uit te wis. Dan gebruik God vir Ester...
Ester gaan pleit by koning Ahasveros vir die redding van haar volk.
Sy kan nie toesien dat hulle doodgemaak word sonder dat sy haar
posisie gebruik nie. “Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so ‘n
ramp getref word?” – Ester 8:6.
Ester se trane voor die koning oortuig hom om vir Mordegai
te gebruik om die ramp teen die Jode af te weer. Hy het hom
toegelaat om vir die Jode in al die stede te laat weet om op hulle
hoede te wees en hulleself te verdedig.
Die koning het ‘n proklamasie uitgevaardig dat hulle hulself kon
verdedig! Nou was daar skielik weer hoop vir die mense van God!
Die koning beskerm hulle! En die Jode hét hulleself suksesvol
verdedig met die toestemming van die koning! Dit alles deur die
toedoen van die vrou wat op wonderbaarlike wyse die koning se
vrou, en koningin geword het. Hoe onvoorspelbaar doen God nie
dikwels sy wonderwerk nie.
God verander nag in dag! Die slegte verhaal in ‘n positiewe nadraai
tot God se eer. So kom daar dikwels iets goeds te voorskyn uit die
grootste pyn en hartseer. Daarna het hulle ‘n spesiale fees, die
Purimfees, uitgeroep om hulle in die toekoms aan hierdie redding
deur God te herinner. Ester 9:22 sê:
“Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak...” Tot vandag
toe nog het die Purimfees ‘n plek op die Joodse kalender. God red!
Agter al hierdie gebeure sien ons die hand van God. God het ook vir
ons gered! God het ook vir ons kom red in Christus aan die kruis,
toe daar vir ons werklik géén uitkoms was nie. Ons moet ook hierdie
ingryping van God in ons eie lewe raaksien, teen alle verwagting in!
Ons verdien net mooi niks daarvan nie. Verder sien ons vandag nog
dikwels in ons lewe hoe verrassend God werk. Moenie dink dit is
“toeval” in jou lewe nie! Sien God daarin raak! Dit is sy verrassende
handelinge om jou te bewaar en jou op nuwe paaie te lei. Hoeveel
keer het die Here nie ook uit genade in jou lewe ingegryp sonder
dat jy dit eers weet nie! Uiteindelik is alle treë op jou lewenspad
genade-treë! God sorg in die fynste detail vir jou wat Hy liefhet!
Ernest